As mense maar glo se vlerke kon hê
Jo-Maré Duddy - Sommige mense noem dit Prozac (of watter nuwe chemiese wondermiddel ookal), ander noem dit joga of aandag-ónafleibare meditasie. Nog ‘n klomp gaan vir die oudtyse brandelier met eisj! en die mengsel van jou keuse of die gesonder rooibostee. Ek noem dit voëls.
Voëls buite hokke. Wilde voëls. In alle groottes en kleure wat in my tuin kom uitkoms soek van die droogte. (Voor die munispale waterfiskale ons kom aantree, wil ek net kwalifiseer: Vir kos, nie vir druppelproviand nie.)
Die bome voor my stoep dra swaar aan handgemaakte spensies wat ek klokslag elke oggend – sodra die eerste haan in Academia se wekker afgaan – met winkelsaad volstop. Deesdae ook met halwe lemoene wat ek in die skerp afgebreekte takspykers inwurm – vir my veervriende met ‘n voorliefde vir die vars sappigheid wat in die pylvak na die lente so broodnodig ontbreek.
Daarna sak ek behaaglik in die stokou leerstoel op my voorstoep neer, eerste koffie wat die nag se spinnerakke wegspoel. En vergaap my hoe my vrinne kom môresê: Baardmannetjies en koringvoëls, rooi-oog tiptolle, die sku blousysies. Duiwe en die groot, grys loeries. Wat ook telkens hul kwê-eier oor sake van die dag te lê het. Muisvoëls, pieterpolle en mossies, soos my ma vanmelewe sommer die etniese landskap van Windhoek se vlieënde inwoners almal oor dieselfde kam geskeer het.
Dit kwetter en dit joel. Sing luidrugtig. Gesels oor die ontbyttafel van ta’ Jo-Maré se Losieshuis oor die kom en gaan van die afgelope nag hier in die suidwestelike woonbuurt van hoofstad.
“Ek’s siek en sat van die kwa(a)drumoer heeldag en -nag hier die strate. Die mense-jongmense voel ‘n veer vir ons wat elke dag vir ons daaglikse saadjie moet swoeg!” kla een van die Rooikappies. Slaapvoos moet dié vuurvinkies bontstaan vir die goewerment van katte wat vroegoggend amok saai.
Die muisvoëls, kuiwe gejel en reg vir aksie, loer oor die rant van hul lemoensap: “Dis die Westelike Verbypad. Kayalami-kortpaadjie na gróót marakkas, sê ek net gisteraand vir lyster. Maar hoor is ‘n storie.”
Ek teug, luister. Verwonder my aan die alledaagse geklets. Die geskerts oor die gewone gang van die lewe. Nie ‘n swartgallige kommer oor die dag van môre wat die lied in hul hart vals verkondig nie. Want hulle wéét môre sorg vir homself, hulle moet net gló.
En ek dink onvermydelik aan die boek oor die konsentrasiekampe in die Tweede Boere-oorlog wat ons ‘n maand of drie terug vir Daantjie Donderboks gegee het toe hy ‘n lewensjaar aanbeweeg het.
Daar word die mossie op die destydse 1c-stuk beskryf. Die rede daarvoor lê in Matteus in die Nuwe Testament opgesluit: “Is twee mossies nie vir ‘n sent verkoop nie? . . . Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as mossies.”
En meteens smaak my oggendkoffie soeter. Sluk ek dit sonder die bitterkommer oor die dag ná vandag. Want ons mossies se lewens is in Groot Hande. Hande wat nie skrik vir droogte, die politiek of die wêreldekonomie nie. Hande wat die klei van die lewe behendig vorm – met sy kurwes én sy krake.
Ons moet net gló.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie