As die nood druk, soek u2018n mens jou ma
As die nood druk, soek u2018n mens jou ma

As die nood druk, soek ‘n mens jou ma

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Die afgelope week het ek opnuut besef: As probleme opduik, soek ‘n kind sy ma, maak nie saak hoe groot, oud, wêreldwys, belese of berese hulle is nie.

Boeta vlieg Bali toe om vriende se troue by te woon. Ek vat hom Internasionale Lughawe Hosea Kutako toe en op pad preek Ma maar, soos dit ma’s se gewoonte is.

“Het jy jou vliegtuigkaartjie? Waar is jou paspoort? Hou jou geld veilig. As jy in Johannesburg op O.R. Tambo-lughawe kom, onthou om nie deur doeane te gaan nie, maar in transito. Hou jou rugsak die heeltyd by jou. Moenie dit iewers neersit nie, want lughawe-veiligheid is so streng, die polisie kan dit maklik konfiskeer en vernietig. Het jy tandepasta in jou handbagasie? Het jy nie ‘n kussing vir jou nek vir die vliegtuig-slaap nodig nie?”

“Ma, this is not my first rodeo,” lag my kind. “Relax, Ma!”

Hy laat weet toe hy in Johannesburg kom, en ek is houtgerus, alles het voorspoedig verloop.

Hy het sy aanboordstapkaartjie en wag net vir die aansluitingsvlug na Dubai, vanwaar hy met Emirates na Denpasar in Bali, Indonesië, sal vlieg.

Halfsewe die aand kry ek ‘n oproep van ‘n onbekende Suid-Afrikaanse foonnommer af. Dit is Boeta.

“Ma, ek het my vlug verpas!”

My eerste instinktiewe reaksie is om smoorkwaad te raak vir die onverantwoordelikheid en op hom te gil, maar rede skop in en ek besef raas en skree sal nou niks verander nie. Bly net kalm en dink.

In my geforseerde kalm Zen-stem vra ek: “Wat het gebeur?”

“Ek het vergeet om my horlosie op Suid-Afrikaanse tyd te stel en toe is ek te laat vir die vlug.”

Nog ‘n rede hoekom ons in Namibië maar moet teruggaan na een tydsone, dink ek by myself.

Al raad wat ek het, is dat hy op die Gautrein Pretoria toe moet ry en die nag by dierbare Nig Miekie moet oornag. In die lig van die volgende dag moet hulle maar van daardie kant af sake beredder.

Die volgende dag, ná ‘n reusebybetaling, is die vliegtuigkaartjies met die hulp van die reisagent verander en is Boeta weer op pad. Hy was drie ure voor hy aan boord moes gaan by die vertrekhek, moes ‘n nag op sy koffer op Dubai se lughawe slaap en het uiteindelik veilig sy bestemming bereik.

Ma’s bly maar die toevlugsoord, die een wat planne moet maak en kalm bly as die nood druk. Dit is nou al etlike jare ná my ma se dood, maar daar is nog tye wat ek die behoefte voel om net die telefoon op te tel en my alledaagse probleempies met haar te deel.

Dit is tog op ‘n manier ook lekker om te weet dat jou kinders weet jy is daar en die vrymoedigheid het om te bel, want Ma sal help waar sy kan.

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer