Arnoldi se CB-reeks verby nog voor dit begin
Rugby
Owen Kock – Die Cheetahs se Curriebeker-veldtog het ’n groot terugslag beleef nog weke voor dié reeks na verwagting sal afskop.
Die haker Wilmar Arnoldi het sy wangbeen tydens ’n kontaksessie die afgelope naweek gekraak en sal vir minstens drie maande langs die kantlyn wees.
Hy sien Vrydag weer ’n spesialis en daar behoort dan ’n beter aanduiding te wees oor hoe lank die hersteltydperk sal wees.
Dit sou Arnoldi se eerste Curriebeker-reeks vir die Vrystaat-Cheetahs gewees het nadat hy hom ná verlede jaar se reeks vanaf Griekwas by die Curriebeker-kampioen aangesluit het.
Arnoldi (25) het reeds Saterdagaand ’n operasie aan die wangbeen ondergaan, het Hawies Fourie, die Cheetahs se hoofafrigter, bevestig.
In Arnoldi se afwesigheid behoort die Namibiese Wêreldbeker-haker Louis van der Westhuizen met die nommer 2-trui toevertrou te word aangesien hy die enigste ander spesialis-haker in die groep is.
Dit kan moontlik meebring dat Reinach Venter of Marnus van der Merwe hulle weer op haker bevind nadat hulle onderskeidelik na stut en flank geskuif is.
Die senter Howard Mnisi het ook vroeg die veld verlaat met ’n dyspierbesering tydens die drie chukkas van 20 minute elk Saterdag in Bloemfontein.
Die mediese personeel sal Mnisi monitor en hy het laat weet dat hy nie te veel ongemak verduur nie.
Daarby het nog ’n Namibiese Wêreldbeker-speler, die stut Aranos Coetzee, en die Cheetahs se jongste losskakel-aanwins, Reinardt Fortuin, enkelbeserings opgedoen. Dit blyk nie te ernstig te wees nie en hulle sal as ’n voorsorgmaatreël ’n blaaskans gegun word.
Die Cheetahs het Saterdag in die Rosestad teen mekaar gespeel as afsluiting van hul eerste week van kontakoefeninge. Hulle speel Vrydag weer teen mekaar.
“Die eerste chukka het goed gegaan. Die uitvoering van wat ons wou doen (op die aanval) was goed. In die tweede en derde chukka was daar te veel foute en die tempo ook te stadig,” sê Fourie.
Die res van die Cheetahs se vergrote groep was ongeskonde, maar daar lê harde werk voor voordat die Cheetahs oefenwedstryde op 26 September in Kimberley en 2 Oktober in Bloemfontein oefenwedstryde teen Griekwas gaan speel.
“Daar sal beslis gewerk moet word aan ons hanteerwerk onder druk, ook die baie strafskoppe wat afgestaan is by die keer van die rolmaalbewegings en in die skrums. Ons verdediging nadat ons geskop het, was ook nie goed genoeg nie,” sê Fourie oor die spelafdelings waaraan aandag gegee moet word.
Vir Vrydag se stryd sê hy gaan dit belangrik wees dat daar beter uitvoering van hulle eerste drie fases op die aanval is, veral vanaf skrums en lynstane.
“Spelers moet vinniger op hul voete en in posisie kom op die aanval. Baie beter lynspoed is nodig en daar moet aan kommunikasie op verdediging gewerk word,” sê Fourie. – Netwerk24
FOTO
Wilmar Arnoldi (met die skrumpet) gaan straks ’n groot deel van die Curriebeker-reeks misloop nadat hy sy wangbeen gebreek het. Hy het Saterdag ’n operasie ondergaan en sal drie maande langs die kantlyn wees. Foto Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie