Aranos terug in aksie vir Cheetahs
Aranos terug in aksie vir Cheetahs

Aranos terug in aksie vir Cheetahs

Rugby
Johann de Jager – Twee van die Cheetahs se onlangse aanwinste, Schalk Ferreira en Rynier Bernardo gaan Saterdag in Kaapstad teen die Stormers ingespan word wanneer dié twee spanne in die voorbereidingsreeks kragte meet.

Die ervare loskopstut Ferreira was kontrakloos nadat die Southern Kings verlede jaar gelikwideer is. Hy en Bernardo, 'n slot, is ná die Curriebeker-reeks deur die Cheetahs gekontrakteer.

Bernardo het al voorheen vir die Cheetahs gespeel en neem nou die plek van Reniel Hugo, wat sy loopbaan by die Haaie gaan voortsit.

Ferreira en Bernardo se insluiting tel onder vyf veranderinge aan die Cheetahs-span wat sy laaste wedstryd in die Curriebeker-reeks begin het.

Ferreira is deel van 'n splinternuwe voorry met Wilmar Arnoldi (wangbeen) en die Namibiese toetsvaskop Aranos Coetzee (enkel) wat terugkeer ná beserings.

Bernardo kombineer op slot saam met Carl Wegner.

Die enigste verandering in die agterlyn is op buitesenter, waar Chris Smit vir Dries Swanepoel vervang.

Die skrumskakel Ruan Pienaar sal – in sy eerste wedstryd sedert die begin van Oktober verlede jaar – as plaasvervanger opgestuur word nadat hy van 'n kniebesering herstel het.

Craig Barry (vleuel, knie), Charles Marais (stut, nek), Junior Pokomela (flank, polsgewrig), William Small-Smith (senter, harsingskudding), Malcolm Jaer (vleuel, heup) en Louis van der Westhuizen (haker, knie) is weens beserings nie oorweeg nie.

• Cheetahs: Clayton Blommetjies, Duncan Saal, Chris Smit, Frans Steyn, Rosko Specman, Reinhardt Fortuin, Tian Meyer, Jeandré Rudolph, George Cronjé, Andisa Ntsila, Rynier Bernardo, Carl Wegner (medekaptein), Aranos Coetzee, Wilmar Arnoldi, Schalk Ferreira. Reserwes: Marnus van der Merwe, Conraad van Vuuren, Khutha Mchunu, Victor Sekekete, Aidon Davis, Ruan Pienaar (medekaptein), Dries Swanepoel, Rhyno Smith.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer