APS skep teelaarde rvir jong spelers
APS skep teelaarde rvir jong spelers

APS skep teelaarde vir jong spelers

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die African Personnel Services-krieketreeks, elke naweek in Juniemaand, het Vrydag en Saterdag by die FNB Vegkopstadion van Windhoek Hoërskool opnuut die geleentheid vir junior spelers geskep om hul staal in twee vriendskaplike wedstryde te toon.

'n A- en B-span (o.13) het mekaar Vrydag die stryd aangesê, voordat 'n o.16A- en B-span mekaar Saterdag getakel het.

By die o.16's het die B-span die A-span op grond van meer lopies in die eerste kolfbeurt geklop. Hulle het net ses kolwers nodig gehad om 'n eerstebeurttelling van 295/4 op te stapel. Dirkie Theunissen met 73* (42 balle, 1x4, 3x6) was sy span se toplopievraat, bygestaan deur Henry van Wyk (71*, 89 b, 7x4, 1x6) en Gerhard Janse van Rensburg (67, 67 b, 3x4, 4x4) wat die telbord in 41 boulbeurte mooi aan die rol gehou het.

Dit is veral Theunissen se blitzkrieg van 42 aflewerings (treftempo bykans 174 persent) wat sy span se lopietempo buite die bereik van hul teenstanders geplaas het.

Die A-span se boulers het agterna waarskynlik oor hul 21 wydlopers en ses foutballe gefrons. Lu-Hendro de Waal (1/25 in 4 bb), Christiaan Venter (1/17 in 4 bb), Zander Smith (1/35 in 4) en Michael Feely (1/39 in 4) neem vir die A-span paaltjies.

Die A-span se futlose 110 almal uit in 22.5 boulbeurte het nie goed verloop nie. Hoewel hulle tien grenshoue kon aanteken (7x4 en 3x6), het net Ben Burger (30, 27 balle, 3x4, 2x6) en Jack Parker (15, 11 b, 1x4, 1x6) werklik na vore getree.

Vir die B-span laat stap Theunissen 3 slagoffers vir 6 lopies in 2 boulbeurte, Dian Jacobs 2/15 in 4, Van Wyk 1/14 in 4 en Ewan Lombaard 1/15 in 3.2.

Die A-span moes met 'n lopieverskil van 185 opvolg, maar is in die oorblywende speeltyd tot 65/8 beperk wat die B-span die wenners gemaak het. Die B-span se beste bouler in sy tweede boulbeurt was M. Ryan met 3/18 in 3 bb.



ONDER 13's

Die B-span met 207/2 in 30 boulbeurte was Vrydag die oorwinnaars teen die A-span wat net 83 (almal uit) in hul eerste kolfbeurt kon behaal.

Die hoogtepunt was Luca Micillo se briljante beurt van 107 lopies van 86 balle (12x4, 4x6) wat die aandag getrek het voordat hy uitgehardloop is. Hy is goed deur Waldo Smit (52*, 73 b, 2x4, 1x6) ondersteun in 'n vennootskap van 126 lopies voor hulle verklaar het.

Nie een van die A-span se kolwers kon dubbelsyfers behaal nie en 9 was hul hoogste telling vir die dag.

Die voorste boulsyfers vir die B-span was Michael Muller se 3/12 in 4 boulbeurte, bygestaan deur Waldo Smith, Henry Opperman, Ruben Yssel, Alexander Badenhorst, Faf du Plessis en Liam Forster wat elk een paaltjie bewerkstellig het.

Kommentaar

Republikein 2026-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer