Applous vir roman wat wérk
In haar kenmerkende ligte styl waarmee sy nie huiwer om donker temas aan te pak nie, skryf Pat Stamatélos in Aankoms en vertrek oor Bailey Kellerman wat van oorsee af terugkeur om die afhandeling van haar pa se testament te hanteer.
Dit moet sy doen saam met haar broer Zak, met wie haar laaste ontmoeting in misverstand en verhoudingskade geëindig het toe hy Londen toe gevlieg het om haar persoonlik oor die gruwelmoord op hulle ouers in te lig.
Bailey se terugkeer lei tot die opening van die spreekwoordelike blik vol wurms. Daar is haar eie onderdrukte rouproses oor haar Franse man wat in dieselfde tyd as haar ouers se moord uit haar lewe verdwyn het, maar daar is ook die teenwoordigheid van haar jeugliefde, Adam, wat die rede was waarom sy aanvanklik Suid-Afrika verlaat het.
In die eerste paar hoofstukke word die leser byna gebombardeer met raaisels. Daar is soveel onbeantwoorde vrae en onduidelike motiewe, dat dit vinnig blyk hoe broos die hoofkarakter in die situasie is.
Maar ná haar aankoms is daar herontdekking van verhoudings wat bekend en kosbaar was: soos die bure uit haar kinderjare en veral Temperance, haar ma se huiswerker wat 'n moederfiguur en anker is.
Stamatélos se karakters is nooit vervelig nie. Selfs karakters wat oënskynlik op die rand van die storie beweeg, word so aangebied dat die leser net 'n paar paragrawe oor hulle nodig het om te besef niemand is toevallig in die verhaal nie. Dit is 'n besonderse vaardigheid.
Wat ook besonders is, is dat hierdie laag-op-laag ontwikkeling van karakters nie net verval in die gewone aanbieding van “niemand is net goed of kwaad nie”, maar ook in die subtiele en simpatieke herinnering dat niemand nét die komiese verligting in 'n verhaal – of in die lewe – is nie.
Clichés is daar wel hier en daar in die skryfstyl en woordgebruik. Maar 'n cliché is nie 'n onvergeeflike sonde nie. In verwerking van verlies, in verlange na dit wat weg is, in medemenslikheid en veral in die liefde, is sekere gedagtes en woorde universeel.
Al handel die boek in die eerste plek oor 'n hartverskeurende gebeurtenis, lees dit maklik en val nie vas in wroeging nie.
Dit is ook 'n verrassing wanneer die primêre stem beslissend verander naby die einde van die boek, maar in die ontknoping dien dit 'n onverwagte doel.
Pat Stamatélos verdien applous vir 'n roman waarin sy 'n fiktiewe verhaal met dieselfde toewyding aan geloofwaardigheid skryf as van haar vorige boeke wat op ware lewensverhale gebaseer was.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie