Apple se nuwe skootrekenaar weeg net 1,2 kg
Apple se nuwe skootrekenaar weeg net 1,2 kg

Apple se nuwe skootrekenaar weeg net 1,2 kg

Petrus Malherbe – Apple het Dinsdag op ’n spesiale geleentheid in New York ’n splinternuwe, en veerligte, MacBook Air-skootrekenaar aangekondig.

Dié reeks skootrekenaars is bekend vir sy dun ontwerp, ruim skerm en goeie batterylewe.

Die nuwe MacBook Air weeg net meer as 1,2 kg, is toegerus met ’n helder retinaskerm van 33,7 cm en ’n battery wat heeldag hou.

Volgens Apple is dié masjien ook “50% dunner” as sy voorgangers, waarvan die eerste weergawe in 2010 verskyn het.

Daar is ook nuwe sekerheidsfunksies in die skootrekenaar ingebou, insluitend ’n vingerafdrukskandeerder (maar geen Touch Bar soos die geval met ander Apple-skootrekenaars).

Die nuwe MacBook Air het ook ’n ingeboude skyfie wat data kodeer.

Laura Lagrove, ’n verteenwoordiger van Apple wat die nuwe skootrekenaar bekend gestel het, sê ook dié masjien is juis ontwerp met studente in gedagte.

Daarom is die luidsprekers harder en die mikrofoon meer sensitief vir video-oproepe en die kyk van flieks.

Die nuwe MacBook Air het ook twee spesiale poorte waarmee jy “alles kan doen”, insluitend die skootrekenaar laai, ’n USB inprop, sowel as die rekenaar aan ’n televisie koppel.

Dié poort, die Thunderbolt 3, is reeds geruime tyd in ander Apple-toestelle soos die MacBook Pro beskikbaar.

En moenie vrees dat jy uit bergplek gaan hardloop nie. Die nuwe MacBook Air bevat ’n hardeskyf met ’n minimum van 128 gigagrepe stoorspasie en 16 gigagrepe geheue. Jy kan ’n model met tot 1,5 teragrepe aanskaf.

Die nuwe MacBook Air word aanstaande week in Amerika uitgereik teen ’n prys van $1 199, wat betreklik duur is.

Die prys is derhalwe vergelykbaar met die iPhone XS Max wat in September uitgereik is. Dié foon kos meer as R30 000 in Suid-Afrika, wat beteken die nuwe MacBook Air gaan waarskynlik ook omtrent soveel kos.

Dit is nog nie bekend of die skootrekenaar ook aanstaande week in Suid-Afrika uitgereik gaan word nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer