APP steun onderwysers
APP steun onderwysers

APP steun onderwysers

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die president van die All People’s Party (APP), mnr. Ignatius Shixwameni, het sy steun aan onderwysers en die vakbonde, Nantu en TUN toegesê, maar ook Nantu vir sy aandeel aan die lot van onderwysers tereggewys.
Shixwameni sê die vakbond het vir té lank die regering se gebrek aan optrede oor die haglike toestande en omstandighede van onderwysers verdra.
“Moenie met die regering getroud wees vir jul eie gerief nie. Streef eerder daarna om die kragtige onderhandelingsmag te wees waarvoor die vakbond tot stand gekom het,” sê Shixwameni.
Die APP het die regering aangemoedig om aan die eise van die onderwysers vir ‘n agt persent verhoging gehoor te gee sonder om met kleinlike verskonings vorendag te kom.
“Ons verwerp ten sterkste die verskoning dat daar nie genoeg geld vir die mees belangrike beroep in ons samelewing is nie, terwyl ons geld aan onnodige luukshede vir die politieke elite en hul aanhangers bestee.
“Dit is hoog tyd dat die regering besef dat ons kostes moet sny. Begin by die vermindering van die aantal ministeries; veelvuldige adjunkministers en oortollige reeds afgetrede raadgewers, ten einde die nodige geld beskikbaar te stel om in die behoeftes te voorsien van ons onderwysers en ander staatsamptenare, wat in omstandighede leef wat ‘n belediging vir hul onderskeie beroepe is.
“Ons doen ‘n beroep op albei partye, die regering en die onderwysers, om graad 10- en graad 12-leerders, wat binnekort hul finale eksamens moet skryf, in ag te neem, en dit as motivering vir die vind van ‘n blywende oplossing vir die heersende dooie punt te gebruik.
“Ons is vol hoop dat die regering van die gebeurlikheidsbegroting gebruik sal maak om die huidige dispuut op te los,” sê Shixwameni.

Kommentaar

Republikein 2026-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer