Antieke Ierse klippe wil praat
Pedro Vorster
En daar staan die ou grapjasse Laurel en Hardy met gevriesde grinnike in die dorpie Strangford, Noord-Ierland.
Terwyl my gedagtes rinkink in flikkerende swart-en-wit flieks word die slapstick hansworse hier met houtbeelde vereer. Een van die 1920’s se komediante was Stan Laurel en hy voltooi onverwags ’n sirkel in my reis. Hy, die dunner een van die duo, het in Glasgow grootgeword.
By die Audley-kasteel kruis ons paadjie weer met die vervaardigers van die Game of Thrones-televisiereeks. Die toringkasteel is hul lokaal nommer 14. Nou speel die episode in volkleur in my agterkop af. Vandag se verveelde toeris kan op ’n kruistog gaan en per voet, fiets of motor al die lokale besoek. Fiksie in die vreemde word só ’n sterker trekpleister as geskiedenis.
Van hier af sleep ek alleen na ’n prehistoriese grafhoop, of cairn. Niemand van ons groep wil saamloop nie, want hulle is nie geïnteresseerd in ’n hoop ou klippe nie. Neus in die lug los ek die klomp onopgevoede plebs agter en gáán.
Die plek is so onindrukwekkend dat, terwyl ek konsentreer daarop om vars beesmis te systap, ek dit byna misloop. Tog is dit nie net ’n hoop lomp opgestapelde klippe nie. Swaar klippe is moeisaam en met oorleg geplaas om ’n nou grafkelder van so 10 m lank te maak.
Teensinnig moet ek erken hulle was tog reg. Op die oog af is dit net ’n paar verwaarloosde antieke klippe, oorgroei met gras en mos. Tog praat die klippe. Hoekom soveel moeite doen om wié se beendere te bewaar? Vir wát?
Die plasing vir die graftombe is ooglopend. Van die heuwel af is daar ’n mooi landelike uitsig oor Strangfordbaai. In sonskynweer sal hierdie ’n goeie piekniekplek vir die hele gesin wees.
Die klippe van Sint Mo-Choi van Nedrum, die ou abdy, hou ’n ander verrassing in. Hulle vertel van vindingrykheid. In 619 n.C. spring die slim manne weg en bou ’n getymeule. Hulle hou die ou maler aan die gang en doen slegs opknappingswerk daaraan meer as ’n eeu later in 789 om sy leeftyd nog verder te verleng.
Die monnikkommune het heel prakties op die platste deel van die heuwel nes geskrop. Die sonwyser in een klipmuur is natuurlik ook omgewingsvriendelik, solank die son skyn. Dan moet ’n mens nog net weet hoe om die ding te lees.
’n Kort veerbootrit van Strangford af lê Portaferry. Op ’n geilgroen grasveld moer twee jong manne ’n sliotar dat die klein wit balletjie trek. Die stok waarmee hulle die bal moker, heet ’n hurley en lyk soos ’n oorgrote hout- paplepel.
Hurling is ’n rowwe kontaksport en nie vir sissies nie. Al is dit onbekend by ons, word dit in heelwat ander lande gespeel, selfs in Suid-Afrika. Blykbaar orals waar die Ierse gemeenskap in getalle groot genoeg is om twee hokkiespanne vol te maak.
Op die Ierse platteland het die insekdom boedel oorgegee. Die oorlewendes is klein, moeilik om raak te sien, en dít nogal in die hitte van die somer.
Staan daar in ’n natuurreservaatbrosjure “wilde diere”, word bedoel daar is voëls en eekhorinkies te sien.
Goeie nuus vir dié met slangfobies: Daar is geen slange in Ierland nie. Regtig. Sint Patrick het glo die laaste een verdrywe.
Die sonskyn hier is magies. Dit betower die bevolking, lok hulle na buite en skakel sonhorlosies aan. Vir vier dae kraai die son koning. Dit is baie ongewoon, word ons vertel. “Julle is gelukkig,” sê hulle. Die lotjie is verspot. Namibiërs ken die son baie goed, dankie. Almal dink dit is aardverwarming, maar ons het dit skaars agtergekom.
Ons word rondgery en kry ’n oordosis van die welige groen velde. Die lang, digte boomlanings van die landelike paaie het koel misterieuse skadu’s wat veroorsaak dat die nou, goed opgepaste teerpaaie smaller voorkom, maar ons druk deur.
Die volgende oggend ontspan almal. Die klimaat keer terug na normaal. Gedurende die nag het dit saggies begin reën op die swyende klippe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie