Ansta deel graag haar passie vir Outjo
Ansta deel graag haar passie vir Outjo

Ansta deel graag haar passie vir Outjo

Gerine Hoff
Augetto Graig

Me. Ansta Gabathuler het ’n passie vir Outjo.
Stap jy haar Farmhouse-restaurant oorkant die bakkery in, kom dié passie duidelik na vore met die ne­tjiese tafels en stoele, die breë glimlaggies waarmee personeel jou begroet, en die heerlike reuke van var­­s- gebakte koek en kos wat vir ’n koning voorgesit kan word.
As ’n boorling van Outjo wat daar skoolgegaan het, het sy haar vlerke eers elders gesprei, voor sy teruggekeer het om vir haar en haar familie ’n lewe hier te kom maak.
Nou is sy reeds 11 jaar terug in haar geboortedorp en kan sy dit wat sy in die buiteland geleer het, terugploeg.
Een van die projekte waarby sy die afgelope twee jaar nóú betrokke is, is die dorp se inligting- en toerismesentrum waar veral gefokus word op die kultuur van die Herero, Damara en San. Sy wil graag hê besoekers moet iets van alles oor die dorp hier kan sien. Sy oorweeg ook om donkiekar-toere aan te bied sodat besoekers verder blootgestel word aan inwoners se alledaagse lewens.
Die nuwe vermaaklikheidsarea is ook ideaal vir konserte of toneelspel.
“Outjo is ’n lekker dorp, met ’n verskeidenheid verblyfsgeriewe en baie wat dit toeriste kan bied. Boonop kan ons natuur en vars lug besoekers se reisgees hernu,” sê sy.
Die sentrum voorsien tans werk aan twee mans en ses vroue.
“Werksverskaffing is vir my belangrik. As mense werk het, is daar minder misdaad en misbruik van alkohol. Dit beteken ’n beter lewe vir almal,” sê sy.
Met die werkers van die Farmhouse-restaurant ingesluit, verskaf sy werk aan 35 mense in die piekseisoen en 20 wanneer dinge stiller is.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer