Angs in SA hoenderbedryf oor vou00eblgriep
Angs in SA hoenderbedryf oor vou00eblgriep

Angs in SA hoenderbedryf oor voëlgriep

Die uitbreking van voëlgriep op plase by twee dorpe in Suid-Afrika het meegebring dat ‘n halfmiljoen hoenders om die lewe gebring moes word.
Dennis Delport - Volgens Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, moes ongeveer 500 000 hoenders al van kant gemaak word weens voëlgriep en tref die pluimveebedryf noodmaatreëls om dit te beperk.

Dit kom nadat die hoogs aansteeklike H5N8-virus op plase in Villiers, in die Vrystaat, en Standerton, in Mpumalanga, aangemeld is.

Verlede week is gehoop dat die uitbreking op die genoteerde voedselreus Astral se Villiers-plaas bekamp is, maar die departement van landbou het die afgelope week gesê nog ’n voorval is op ’n plaas in private besit naby Standerton aangemeld.

Senzeni Zokwana, minister van landbou, het die afgelope week gesê daar is 260 000 hoenders in opdrag van die staat van kant gemaak, maar Lovell sê hul inligting van lede is dat die ­getal reeds rondom die halfmiljoenmerk is.

Lovell sê die tweede bevestigde uitbreking lyk soos ’n onverwante besmetting.

“Hulle gebruik verskillende voermaatskappye, verskillende veeartse, en het verskillende produkte - bevrugte eiers vir uitbroei op die een plaas en kommersiële eiers op die ander.”

Die griep het al miljoene voëls in ­Europa en Afrika-lande, insluitende Zimbabwe, uitgewis. Dit is hoogs aansteeklik en word maklik deur wilde ­voëls se ontlasting versprei.

Boere in die Standerton-omgewing, waar die jongste uitbreking was, is in rep en roer om hul plase te beskerm en tref buitengewone voorsorgmaat­reëls.

Met Rapport se besoek aan die distrik het boere chemikalieë rondom hul plase gespuit omdat die virus ook in stof vervoer kan word.

Alle voertuie wat by hoenderplase ingaan, word eers afgespuit.

Astral het ’n paar plase in die omgewing, maar dié maatskappy beklemtoon in ’n verklaring dat die tweede voorval van voëlgriep nie op een van sy plase aangemeld is nie.

By die Astral-plaas naby Greylingstad het werkers Vrydag nuwe saagsels vir die hokke afgelaai. ’n Werker het verduidelik dat die ou saagsels vervang moet word sodat hulle die hokke behoorlik van ontlasting kan suiwer. Daar was geen hoenders in sig nie en die werker het gesê hulle is verskuif. “Net ’n paar” hoenders is dood, maar na bewering nie weens voëlgriep nie.

By die ingang is daar waarskuwingstekens dat die plaas ’n “siektebeheerde gebied” is.

Marlize Keyter, Astral se woordvoerder, sê die waarskuwingstekens by die plaas is permanente tekens wat opgerig is omdat al hul fasiliteite veiligheidsmaatreëls het om hoenders teen siektes in die algemeen te beskerm. Hierdie permanente tekens is by al ­Astral se plase.

Terwyl pluimveeboere die ergste vrees, is die skade wat reeds aangerig is besig om uit te kring.

Namibië was die eerste land wat sy grense vir Suid-Afrikaanse pluimvee-­invoer gesluit het, berig Reuters.

Zimbabwe het ook onbepaald die ­invoer van alle pluimveeprodukte uit Suid-Afrika verbied.

Die Suid-Afrikaanse regering het die afgelope week ook ’n verbod op die verkoop van lewende pluimvee sonder die nodige sertifisering dat die voëls onbesmet is, aangekondig.

Gary Arnold, besturende direkteur van landbou by Astral, sê die maatskappy het nog nie groot verliese gely nie.

“Die virus se impak op ­Astral is beperk tot die koste van lewendige voorraad wat verlore is in die proses.”

Arnold sê hulle het steeds meer as genoeg voorraad.

Die teelhoenders wat in Villiers van kant gemaak moes word, verteenwoordig 6% van die voorraad. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer