Angolese ontwikkeling bedreig Kunene
Die BGR sal ‘n watersuiweringsaanleg by Eenhana help bou sodat die dorp van sterk watertoevoer uit die akwifer gebruik kan maak.
Elvira Hattingh - Grootskaalse ontwikkeling aan die noordekant van die Namibië-Angola grens kan die noorde van Namibië se watersekerheid mettertyd onder groter druk plaas.
“Ons weet nie hoe lank ons nog kan staatmaak op water uit die Kunenerivier as ‘n mens kyk na die grootskaalse ontwikkeling wat aan die Angolese kant van die grens voorkom nie,” het die ministerie van landbou, water en bosbou se adjunk- permanente sekretaris, mnr. Abraham Nehemia, gesê.
Hy het dié opmerking Vrydag tydens die oorhandiging van 350 000 euro, oftewel N$5,8 miljoen deur die Instituut vir Geowetenskappe en Natuurlike Hulpbronne (BGR) aan NamWater en die ministerie gemaak.
Dié geld moet aangewend word om water vanuit die Ohangwena-II-akwifer te suiwer sodat dit vir menslike gebruik in Eenhana aangewend kan word.
Nehemia se kommer is deur mnr. Martin Quinger, die instituut se bestuurder van die Ohangwena-II-projek, in Namibië bevestig.
“Oppervlakwater is beperk en die Kunenerivier se watervlakke val jaarliks. ‘n Rede hiervoor kan die ontwikkeling aan Angolese kant wees, waar hulle beplan om duisende hektaar onder besproeiing te plaas,” het hy gesê.
“Die vraag is: Wat gebeur as ons ernstige droogtes ervaar? Ons het ‘n alternatiewe waterbron nodig, en as ons die nodige infrastruktuur by die Ohangwena-II-akwifer het, kan ons in tye van nood slegs die knoppie druk en die pompe aanskakel,” het Quinger gesê.
Hy het bygevoeg om dié rede is dit noodsaaklik om nog geld in die akwifer te belê.
Quinger sê die akwifer is ‘n uitstekende bron omdat dit nie so afhanklik van klimaatstoestande is nie en selfs ná 10 jaar van droogte steeds water sal kan verskaf.
WATERSUIWERINGSAANLEG
Dr. Vaino Shivute, uitvoerende hoof van NamWater, het tydens die geleentheid gesê die bou van ‘n watersuiweringsaanleg by Eenhana beteken die dorp sal voorts ‘n bykomende bron van water hê.
“In September 2007 het die verskaffing van drinkwater aan Eenhana via die Oshakati-Omakango-Omafo-pyplyn begin verminder as gevolg van ‘n groeiende vraag na water.
“Die hele Onhangwenastreek het ‘n bevolking van 240 000 mense. Naas die Khomasstreek is dit die landstreek met die meeste mense,” het hy gesê.
Volgens Shivute het die ministerie van landbou, water en bosbou intussen met behulp van die BGR en die finansiering van die Europese Unie sowat 33 boorgate in die omgewing gesink.
“NamWater self het ook drie boorgate geboor, wat in Mei verlede jaar voltooi is. Die boorgate lewer stérk water.”
Shivute sê die water is egter nie geskik vir menslike gebruik nie, derhalwe moet ‘n suiweringsaanleg gebou word.
Hy het gesê op grond van bestaande ooreenkomste vir tegniese samewerking tussen die Duitse en Namibiese regerings finansier die BGR die Eenhana-suiweringsaanleg.
Dit sal na verwagting teen Mei 2019 voltooi wees, en water uit dié boorgate sal slegs vir Eenhana aangewend word.
Shivute het gesê dít moenie met die groter Ohangwena-II projek, wat steeds onderweg is, verwar word nie.
LAASTE HULP
Quinger het gesê dié Eenhana-projek kan as ‘n bloudruk vir verdere ontwikkeling van die akwifer gebruik word.
Die Namibiese kant van die akwifer bevat sowat 20 miljoen kubieke meter water (Mm³).
“Die akwifer se watergehalte is van die beste in die noordelike dele, waar dit onttrek sal kan word sonder dat suiweringsaanlegte aangebring moet word.”
Hy het gesê sodra hulle die akwifer se water begin gebruik, sal hulle meer daaroor kan leer, soos teen watter tempo en hoeveelheid die water onttrek kan word.
Hy sê egter die huidige onttrekkingsvlakke aan die akwifer is soos om met ‘n klein strootjie van ‘n baie groot meer te drink.
Nehemia het gesê sy ministerie wil alles moontlik doen om die water beskikbaar te stel en die akwifer te beskerm.
“Vir nou word dit gebruik om byvoorbeeld vir Eenhana van water te voorsien, maar later kan dit dalk elders aangewend word.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie