Andimba: Bemind deur ieder en elk
Andimba: Bemind deur ieder en elk

Andimba: Bemind deur ieder en elk

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Huldeblyke aan die ontslape Swapo-veteraan, mnr. Andimba Toivo ya Toivo, stroom steeds in.

Mnr. Dirk Mudge, oudvoorsitter van die Democratic Turnhalle Alliance (DTA), het destyds vertoë aan Pretoria gerig vir Ya Toivo se vrylating toe hy op Robbeneiland was.

“Ek onthou hom as 'n waardige opponent en goeie vriend vir wie ek groot waardering gehad het, al was ons lede van verskillende politieke partye.

“Hy is gevange geneem in die noorde van Namibië. Die oorlog deur die Suid-Afrikaanse weermag in die noorde van die land en in die suide van Angola was 'n groot fout en het baie moeilikheid veroorsaak. Baie mense is onnodig in daardie stryd dood,” het Mudge in 'n telefoniese onderhoud aan Republikein gesê.

Die afgetrede lt.genl. Martin Shalli, voormalige bevelvoerder van die Namibiese weermag, is dit eens met ander dat Ya Toivo 'n “groot figuur en ware vegter vir vryheid vir sy land en sy mense was”.

“Andimba het geglo in die mag van hierdie land se mense om onderdrukking teen te staan en dat groot

opofferings uiteindelik onafhanklikheid sou meebring. Verskeie van sy toesprake en uitlatings was inspirerende woorde wat ons nog lank sal bybly.

“Ek het Andimba geken sedert ek 'n jong seun was wat in Ondangwa, my tuisdorp, grootgeword het. Hy het 'n winkel gehad waarheen ons gegaan het om basiese huishoudelike noodsaaklikhede en lekkers te koop.

“Een dag het ek saam met my pa daarheen gegaan en Andimba het vir my 'n T-hemp en grys kortbroek present gegee terwyl hy my aangemoedig het om aandag aan my skoolwerk te skenk. Hy het gesê Namibië het opgeleide mense ná onafhanklikwording nodig.

“Of ek werklik sy woorde ter harte geneem het of nie, weet ek nie. Andimba se broer, die oorlede Veyiyo, het vir my lekkers, 'n Fanta en twee of drie koekies gegee. Wat 'n oomblik was dit nie!

“Wat my die meeste inspireer, is die man se nederigheid, sy sin vir humor, sy vermoë om mense te oortuig, sy onverbiddelike toewyding tot die beste belang van sy mense en Afrika, en tot nasionale versoening, vergifnis en eenheid, en natuurlik sy ongeëwenaarde geestelike en fisieke krag.

“Andimba was ewe geliefd onder vriend en vyand,” het Shalli in sy hulde­blyk gesê.

Die voormalige eerste minister, mnr. Nahas Angula, het gesê Ya Toivo het in die vroeë sestigerjare drastiese politieke veranderinge in die noorde van die land teweeg gebring.

“Hy het politieke ontwaking in die konserwatiewe Oshivambo-gemeen­skap veroorsaak. Hy was verantwoordelik daarvoor dat honderde jongmense, insluitende ek, gestuur is om hulle by die bevrydingstryd aan te sluit.

“Sy persoonlike verbintenis tot die onafhanklikwording van Namibië is legendaries.

“Hy het sy werk in Kaapstad verloor. Hy het sy sakeonderneming op Ondangwa verloor. Sy volwasse lewe het hy in die gevangenis deurgebring. Hy het egter nooit aanspraak gemaak op glorie of politieke mag ná Namibië se onafhanklikwording nie.

“Sy menslikheid en nederigheid was buitengewoon. Sy lewe is 'n viering. Vaarwel, Ya Toivo!” het Angula geskryf.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer