Amupanda wysig sy aanslag op die Rooilyn
Amupanda wysig sy aanslag op die Rooilyn

Amupanda wysig sy aanslag op die Rooilyn

Die gewese burgemeester het 'n paar besonderhede gewysig in sy hofsaak vir die verwydering van die veeartsenykordonheining ná hy oortuig is om “irrelevante bewerings” in die eis te laat skrap.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Die Affirmative Repositioning (AR)-aktivis en politikus mnr. Job Amupanda het die eisbesonderhede gewysig in die hofsaak waarin hy die verwydering van die omstrede noordelike veeartsenykordonheining (VCF), oftewel die Rooilyn, versoek.

Dit nadat die verweerders in die saak stappe gedoen het om sommige aantygings wat Amupanda in sy eis gemaak het, te laat skrap.

Amupanda het die saak op 26 Mei verlede jaar aanhangig gemaak om te vra vir 'n hofbevel om die heining te laat verwyder en as onwettig en ongrondwetlik te verklaar.

Hy het die minister van landbou, mnr. Calle Schlettwein, die regering, die prokureur-generaal mnr. Festus Mbandeka en 'n amptenaar in die direktoraat veeartsenydienste, mnr. Hango Nambinga, as verweerders in die saak gelys.

Die Vleisraad van Namibië is as verweerder bygevoeg nadat dit toestemming gevra het om in te tree.

Volgens hofstukke was Schlettwein en Mbandeka van plan om aansoek te doen om sommige van Amupanda se aantygings te skrap wat volgens hulle “irrelevant is en … nie aan reël 45(5) voldoen nie”.

Hulle het bygevoeg Amupanda se eis het nie gronde wat nodig is om 'n saak te steun nie en dat dit “vaag en 'n verleentheid” is.

In sy gewysigde eis sê Amupanda die Rooilyn is opgerig om as 'n skild te dien en om mense wat suid van die heining met hul vee woon, te isoleer teen waargenome of werklike siektes wat ontstaan onder mense en hul vee wat noord van die Rooilyn woon.

Hy sê dié beskerming en isolasie word nie verleen aan mense wat noord van die Rooilyn met hul vee woon nie, wat volgens hom diskriminerend is.



'KOLONIAAL'

Amupanda sê die heining word steeds gebruik om die beweging van diere en “swart mense” van die noorde tot die suide van Namibië te beheer.

Volgens hom is die VCF as 'n “koloniale struktuur” ongrondwetlik op grond daarvan dat dit opgerig is om koloniale doelwitte te bereik.

“Daar is geen wet wat dit goedkeur of daarvoor voorsiening maak nie; in Namibië is dit nie rasioneel verbind met enige doeleindes nie. Mense wat van die noordelike dele afkomstig is, word nie dieselfde behandel as dié van suidelike dele nie.”

Laasgenoemde, volgens hom, bring mee dat enigiemand uit die suide van Namibië vry is om ongehinderd hul vleis te eet en daarmee te reis, maar dié van die noorde kan dit nie doen sonder dat die vleis by kontrolepunte gekonfiskeer word nadat hulle aan roetine-ondersoeke onderwerp is nie.

Amupanda voer verder aan die heining maak dit vir amptenare van die ministerie moontlik om mense (en hul diere) wat vanaf die noordekant van die Rooilyn reis as minderwaardig te klassifiseer en hulle vir siektes te ondersoek en hul eiendom te konfiskeer, te verbrand en sonder 'n lasbrief te deursoek.

“Diegene wat vanaf die suidekant van die Rooilyn reis, word nie aan hierdie behandeling onderwerp nie.”

Amupanda vra steeds vir 'n bevel wat verklaar dat die oprigting van die Rooilyn nie ingevolge enige landswet uitgevoer is nie en dat dit ongrondwetlik is.

Hy vra verder 'n bevel wat die landbouministerie en die regering se besluit om die heining te behou, hersien en ter syde stel. Hy vra vir 'n hofbevel wat verplig dat die heining binne 90 dae verwyder word.

'n Statusverhoor op 25 Januarie is vir die saak voorgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer