Amputasie ná verskeie mislukte operasies

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Jaar en verskeie onsuksesvolle operasies by ’n staatshospitaal later, staar amputasie van sy regterarm ’n jong seun in die gesig.

Die tienjarige Jayden Freyer moes verlede jaar soveel tyd in die hospitaal deurbring, dat hy noodgedwonge vanjaar graad 4 moet herhaal. Jayden se arm is in so ’n toestand van infeksie dat die vlees rondom ontsteek is en etter daaruit loop. Die stuk gebreekte been is op ’n foto duidelik sigbaar.

Volgens Jayden se ma Aletta het haar seun in Julie verlede jaar gespeel en het ’n kind van agter op hom gespring en bo-op hom geval. Hy het gekla sy kop pyn en sy arm was geswel.

Twee dae later het sy suster hom na die Katutura-kliniek geneem, waar X-strale geneem is. Hy is ook na die Katutura-hospitaal vir X-strale verwys. Volgens die dokter was sy arm nie gebreek nie en is hy met Panado’s huis toe gestuur. Sy arm is nie toegedraai of in gips geplaas nie.

’n Dag of wat later het sy regtervoet ook begin swel en kon hy nie daarop trap nie. Op 9 Julie word hy in die Katutura-hospitaal opgeneem waar hy op 12 Julie ’n operasie aan sy arm en been ondergaan. Volgens die dokter was dit infeksie wat sy pyn veroorsaak het. Jayden is eers op 28 Julie ontslaan.

“Sy arm was steeds geswel, maar sy been was reg ná die operasie; hy kon daarop staan en loop,” vertel Aletta.

In September neem sy hom terug hospitaal toe, nadat sy arm steeds geswel bly. Dié keer bevestig die dokter haar seun se arm is gebreek.

“Volgens die dokter het die infeksie meegebring dat die arm gebreek het.”

Wéér is Jayden in die Katutura-hospitaal opgeneem waar hy tot einde September gebly en twee operasies ondergaan het.

“Ons moes elke tweede dag teruggaan vir die ‘dressing’. Ons kon sien waar die wond is, is ’n wit ding soos ’n been wat uitkom.”

Tydens ’n opvolgbesoek by die dokter “sien die dokter die been en sê dit is infeksie”.

“Die hele gebreekte been steek by die oop wond uit.”

Jayden het teen dié stadium soveel skooltyd misgeloop, dat hy vanjaar graad 4 moet herhaal.

Tydens ’n opvolgbesoek in Mei vanjaar aan die spinale eenheid by die Windhoek Sentrale hospitaal is die dokter se beslissing Jayden moet wag vir ’n spesialis uit Suid-Afrika om die stuk gebreekte been uit te haal en met “yster” te vervang.

“Verlede Woensdag sê die dokter hy wil nie ’n klein kind se arm afsit nie, maar dit help nie ons wag en wag nie, ons moes al vroeër die arm afgesit het.”

Aletta beklemtoon sy was nooit nalatig met die wond nie en het heeltyd soos die opdrag was Jayden vir opvolgbesoeke en vir die vervanging van sy verbande kliniek of hospitaal toe gevat.

“Die wond bly oopbars; so ook sy voet, en dan loop etter uit.”

Volgens Aletta het nog ’n dokter gesê “ons moet wag tot Corona afneem en dan moet hy weer inkom”.

“Ek is moedeloos en seer; my kind is net tien en nou wil hulle sy arm afsit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer