Amper weer jagtyd
(Met apologie aan die skrywer wie se naam ongelukkig nie bekend is nie. Dit is per e-pos ontvang, maar is só ? aansteeklike, amusante vertelling dat dit nie net in die e-possfeer mag bly nie, maar met ? wyer leserskring gedeel móét word. Redakteur)
So kom die spul manne die eerste aand van die jag in die jagkamp aan. Opgewonde, vol grappe en kwinkslae, met nuwe speelgoed en baie drank. En die paartie begin.
Shots (dis nou kort vir Shorty) Duvenhage is die hanswors, en hy's op sy stukke, die manne brul van die lag. Die wat nog bakkies aflaai, maak gou om by die gelag in die lapa te kom. En die proppe klap, die manne is dors!
Manie Botha, die lot se prokureur, en glo my, hulle het hom gereeld nodig, haal duur drank uit, en dis gou die onderwerp van bespreking. “Dis gesofistikeerd, dis goed, dis anders as Klipdrif en Tas en Skip en dooswyn. Dit is sag op die pallet. Die geur is blywend.”
En die slimmes en die dommes proe die duur drank op. Toe is dit terug by Skip en Tas en Klippies en Coke, en toe's al die foute van die minder gegoede dranke vergewe, en toe praat die manne rugby.
Doep is nou aan die woord, hy het vir Shimlas gehaak en hy ken sy game en die manne stem saam met Doep. En hulle kies die Wêreldbekerspan en bepaal hoekom ons dié keer gaan verloor. Hulle haal die coach en die spanbestuurders en die refs en die manne van SARU en die vlagmanne en die ball boys, almal uitmekaar uit, en hulle almal is saam verantwoordelik vir die feit dat ons nie eens die final gaan maak nie.
En dis nie dat die manne negatief wil raak nie, dis feite. En dit net oor die politiek; die politiek het als bevark, als.
Toe kom die politiek ter sprake. “Zuma is 'n disgrace en Nkandla is 'n siek grap, Cyril Ramaphosa kruip net gat by die Chinese en gaan nog hierdie land verkoop vir sy eie gatsak. Cosatu gaan die land doodwurg.”
Ek dink nie ek moet veel verder uitbrei oor hierdie deel van die aand nie. Daar is min woorde gebruik wat ek in my storie kan gebruik as ek 'n ouderdomsbeperking wil vryspring.
Dit het aangegaan en opgebou tot Danie Nel in sy woede soveel hout op die vuur gesmyt het dat die ander begin kla het dat hulle nooit gebraai gaan kom nie, en toe gaan die krag genadiglik af vir beurtkrag en almal skarrel vir lanterns en flitse en lig.
Hierna gaan die gesprek gelukkig na Eskom toe, en tussen Shots se klomp Eskom-grappe deur het die gees darem weer gelig, en so het die elmboë weer begin lig, en nie lank nie toe is die politiek vergete en die manne kuier lekker.
Dis toe die vuur begin kleiner brand dat Faan Hechter oplet hoe helder die sterre is. Nie lank nie, of Piet van Vuuren gee 'n begeesterde lesing oor die sterre. Die manne is teen dié tyd warmer as die vuur, en hulle ken almal sterre. Japie Combrink, die span se dokter, verduidelik hoe om Suid te bepaal met die Suiderkruis, maar hy kom effe Wes van Noord-Oos uit soos hy slinger as hy opkyk.
Nou loop haal die manne verkykers vir die gekykery. En hulle kyk en hulle drink en hulle slinger en dit lag. Joop, een van die manne met die nuwe teleskope, besluit hy gaan vanaand met sy teleskoop 'n satelliet bekyk en hy loop haal sy geweer. En so verskyn nog gewere met grênd teleskope en die manne kyk sterre.
Dries de Waal het 'n .458 Lott gekoop vir die jag, en dis toe hy en Joop in 'n stadium gewere ruil om teleskope te vergelyk, dat die flop toe gebeur. Joop is 'n klein, bleskop mannetjie en die .458 Lott is 'n monster van 'n geweer. Toe hy nou half teen die geweer opklim om die teleskoop te laat fokus op die man op die maan, toe druk hy die sneller. Daar gaan 'n skoot af wat klink soos donderweer en daai Lott skop soos 'n kameelperd!
Die teleskoop slaan Joop se oogbank oop tot op die been. Lights out soos Eskom self. Daar lê Joop.
Die eerste reaksie in die groep is 'n verslae stilte. Toe skree een: “Joop is dood! In sy kop geskiet!” En toe maak die manne 'n kring en staar in verbasing na die lyk met die kopwond op die grond langs die vuur. Toe sien Dries sy nuwe Lott het in die vuur geval en hy ruk hom daar uit en vergeet heeltemal van die dooie Joop op die grond. Party manne begin droewig huil. Joop was 'n goeie ou. En hy't vrou en kinders.
Faan hou egter kop en voel Joop se pols. Hy leef nog! En toe sit dié wat half nugter geskrik is, twee en twee bymekaar en die manne begin lag. Maar die kop bloei lelik, en hulle besluit dis tyd dat die spandokter sy slag kom wys. Japie het die vorige jaar klaargemaak op Stellenbosch en hy's besig met sy hospitaaljaar, en hy moet nou kom opereer. Maar hy weet van die petalje niks, want hy't intussen in 'n bakkie uitgepass terwyl hy sy geweer gesoek het.
Hy word hard wakker geklap. Joop is gelukkig nog bewusteloos. Japie loop haal slinger-slinger sy tas en die manne voer hom 'n dop vir good luck en almal bring flitse en Japie vat nog 'n paar terwyl hy die gare deur die naald ryg. En die manne cheer en lag en drink op Joop en op die Lott wat uit die vuur gered is en op die maan en op die operasie. Hulle gooi brandewyn oor die bloeiende wond en Japie begin opereer!
Die volgende oggend slinger die spul uit die kooie en van die houthoop af en van langs die vuur af, en van waarvandaan hulle ook al getiep het of aan die slaap geraak het, toilet se kant toe, met blase wat blinkstyf staan. En toe soek hulle koffie. Die meeste nog winddronk, of babelas met koppe te swaar vir hul nekke en oë halfmas oop.
Toe Joop die kombuis ingeskuifel kom, snak 'n paar manne na hul asems. In die helder lig van Eskom wat weer vir 'n verandering werk, is dit nie 'n mooi gesig nie. Kompleet 'n voorbode! Hy hou aan die kosyn vas en die koors slaan hittegolwe uit oor sy bebloede bles. Sy potblou regteroog knip-knip halfmas oop. Die ander oog is dik geswel, potblou, met rooiwarm infeksie rondom die diep, pers swelsel.
Die groot wond oor die oogbank is toegewerk met baie steke – so ook sy linkeroog. Die steke loop van die wond af, regoor sy oog, al oor die bebaarde wang, teen sy nek af, skuins oor 'n slagaar tot bo sy sleutelbeen. Daar is ook 'n paar vertakkings na sy linkeroor en een tot op sy bles, al langs die pad van die strepe bloed soos dit teen sy kop afgeloop het.
Twee en sewentig steke, om presies te wees!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie