Amerikaner verdrink in Kunene
Amerikaner verdrink in Kunene

Amerikaner verdrink in Kunene

Tammy Kleinhans
Tammy Kleinhans - ’n Welwillendheidsbesoek aan Namibië om as lid van die Amerikaanse vredeskorps vrywillige werk in plaaslike gemeenskappe te doen, het vir ’n 24-jarige Amerikaanse man tragies geëindig.
John Peterson het op Oujaarsdag saam met vriende in die Kunenestreek by die Epupavalle gekuier. Die vriende het in die Kunenerivier gaan swem. Peterson het skielik onder die water verdwyn en is nie weer lewend gesien nie.
Die polisie is van die voorval in kennis gestel en ’n omvattende soektog is na hom onderneem. Op 1 Januarie is die soekgebied vergroot en ’n helikopter van Expedite Aviation is ingespan. Daar is selfs tot so ver as die Kunene-mond gesoek. Professionele duikers is ook ingespan om in die rivier na hom te soek.
Uiteindelik is sy oorskot omstreeks 10:00 ongeveer 15 km stroomaf van waar die vriende gaan swem het, uit die lug uit opgemerk.
Peterson was vir etlike maande as ’n vrywillige vredeskorpswerker by die gemeenskap se vaardigheidontwikkelingsentrum in die Mahetago-woonbuurt van Swakopmund werksaam.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer