Amerikaanse ambassade bespaar miljoene liters

Eenvoudige maatreëls bring groot sukses
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Altesaam 18 000 m³ water (18 miljoen liter) is bespaar sedert die Amerikaanse ambassadeur met 'n waterbesparingsveldtog in Junie 2015 onder sy personeel begin het. Sedert September verlede jaar gebruik dié ambassade maandeliks 70% minder water.

Boonop is die waterverbruik in die ambassadeur se woning van 225 m³ per maand na tussen 20 tot 25 m³ verminder en gebruik sommige ambassadeurshuishoudings met families so min as 5 of 6 m³ water per maand.

Die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, mnr. Thomas Daughton, en sy fasiliteitsbestuurder, mnr. Orlin Clements, het hierdie besparings deur middel van eenvoudige maatreëls behaal – soos byvoorbeeld op te hou om tuine nat te maak of swembaddens te hervul, watergebruik te monitor en alle lekkasies te soek en te herstel. Geen duur stelsels was nodig om dié waterbesparings te behaal nie.

“Ons ervaring het bewys dat dit in der waarheid maklik is om groot hoeveelhede water te bespaar,” het Daughton aan Republikein gesê. “As ''n mens kyk na die munisipaliteit en regering se planne oor hoe om die waterkrisis te hanteer, is dit duidelik dat niks hiervan vinnig opgelos gaan wees nie. Die enigste manier hoe ons deur die waterkrisis gaan kom, is as almal water bespaar. Dit gaan vir ons ''n manier van lewe word,” het hy gesê.



DIE INISIATIEF

Daughton sê hy het in ''n gedeelte van Amerika grootgeword waar daar altyd droogte- en waterprobleme was. Gevolglik is hy meer sensitief vir droogtesituasies as wat ander Amerikaners mag wees.

“Die droogte het sy ver­skyning gemaak toe ek reeds vir bietjie langer as ''n jaar in Namibië gewoon het. Tans is ons reeds in die derde jaar van droogte en intussen het ons besef ons ervaar ''n groter probleem.

“Dis jammer dat daar oor die afgelope jaar tot jaar en ''n half nie meer moeite gedoen is om oor waterbesparing te praat nie. Dit is lankal reeds duidelik dat daar ''n groot probleem heers – spesifiek in Windhoek.

“Ek het begin vrae vra en op grond van wat die munisipaliteit en ander rolspelers aan ons vertel het, besluit ons moet self iets doen en ''n voorbeeld stel.”



EENVOUDIGE MAATREËLS

“Ons het begin deur watergebruik te monitor en het een persoon opgelei om watermeters te lees en rekord daarvan te hou. Ons was geskok oor wat ons ontdek het en hoeveel water ons in der waarheid gebruik.

“Een van die grootste oortreders was my huis – die ambassadeurshuis. Die rede was hoofsaaklik dat grasperke met sproeiers natgespuit is. Bietjie meer as ''n jaar gelede het ons verskeie grasperke gehad met sproeierstelsels wat aanvanklik daagliks geloop het.

“Ons het eers probeer om die grasperke minder gereeld nat te maak, maar naderhand besluit om die gras te laat vrek.

“Ons het intussen met die munisipaliteit se goedkeuring reënwater­ in tenks deur geute begin opvang, wat ons gebruik om tuine nat te maak. Ons het algaande plante begin verwyder wat nie inheems of droogte­bestand is nie.”



IDENTIFIKASIE VAN PROBLEME

“Ek het my kollegas gevra om ook hul huishoudelike watergebruik te monitor en gevolglik kon ons huise identifiseer wat ongewone groot hoeveelhede water gebruik.”

Daughton sê hulle het stelselmatig deur die “probleem-huise” gewerk en die redes vir ''n hoë waterverbruik het verskil. Soms was dit as gevolg van sproeierstelsels, andersins was dit dikwels ernstige kwessies met water­lekkasies.

“Dis redelik eenvoudig om waterlekkasies op te spoor. Ons maak alle krane in die huis toe en maak seker toilette loop nie. Dan neem ons ''n selfoonvideo van die meter vir ''n minuut of twee – as die meter beweeg, weet jy iets is fout. Dit is hoe ons verskeie waterlekkasies kon opspoor.

“Dit het ''n goeie ses maande geneem om al die probleme te identifiseer. Ons het ''n plaaslike maatskappy gehuur om ondergrondse waterlekkasies op te spoor.

“Nadat hierdie proses reeds vir bykans vier tot vyf maande aan die gang was, het die munisipaliteit riglyne deurgegee oor hoeveel water huishoudings per inwoner per dag mag gebruik. Ons het dit as ''n teiken gebruik om seker te maak alles is onder hierdie vlak.”

Daughton sê hy het ook byvoorbeeld vergaderings oor waterbesparings met personeel gehou, waartydens hulle byvoorbeeld aangemoedig is om bakstene in toiletbakke te plaas sodat minder water per spoel gebruik word.

“Mettertyd het ons toilette vervang met meer water-doeltreffende weergawes. Ander klein dingetjies sluit in om ''n emmer in storte te hou en die eerste koue water op te vang. Dieselfde geld vir die spoelwater van skottelgoed – wat byvoorbeeld in tuine gebruik kan word.

“Die munisipaliteit het egter nodig dat water deur die stad se dreineringstelsel spoel ter wille van hul waterherwinningsaanleg, wat dit nodig maak om ''n sekere hoeveelheid water te laat wegspoel.”



SWEMBADDENS

Daughton sê ná die munisipaliteit se vereiste dat fonteine nie langer gebruik mag word of swembaddens met kraanwater opgevul mag word nie, het hulle opgehou om hul fontein voor die huis te gebruik en is dit eindelik verwyder.

Daughton het ook sy eie swembad toegegooi.

“Ek het my swembad opgevul. Ek dink dit dra die boodskap duidelik oor dat ons werklik ''n probleem het. As mense werklik ernstig oor waterbesparing is, is dinge soos ''n swembad ''n luukse wat nie onder huidige toestande geregverdig kan word nie.”

Hy sê wat ambassadeur-huishoudings betref, het hulle probleme met lekkasies onder swembaddens gehad.

“ Ons het dit herstel en gesorg dat al die swembaddens van bedekkings voorsien is.”

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer