Amerika skenk N$110 m. vir voedselhulp
Amerika skenk N$110 m. vir voedselhulp

Amerika skenk N$110 m. vir voedselhulp

Amerikaners het weer eens hul beursie oopgemaak om kos aan droogtegeteisterde Namibiërs te skenk.
NAMPA
Die Amerikaanse regering het US$7,6 miljoen (sowat N$110 miljoen) geskenk wat geoormerk is vir voedselhulp aan Namibiërs wat die ergste onder die droogte deurloop.

Tydens ‘n aankondiging Dinsdag by Staatshuis het die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, amb. Lisa Johnson, gesê sy het onlangs saam met haar kantoorpersoneel deur Namibië se streke gereis om die droogte waar te neem.

“Ek het veral van mense gehoor dat hulle nie genoeg kos het om te eet nie. Ek was in die Kunene-, Zambezi-, Kavango- en Omusatistreek en mense is baie bekommerd oor die komende seisoen,” het sy benadruk.

“Die skenking van meer as 5 000 ton kos aan Namibiërs in streke wat die swaarste deur die droogte geraak is, sal die mense tot ses maande lank kan hou.

“Ons gaan, sover moontlik, die kos plaaslik en streeksgewys aankoop omdat dit vervoerkoste sal verlaag. Ons doel is om die kos so gou as moontlik by mense te kry wat dit die nodigste het,” het sy gesê.

Die skenking sal na raming sowat 110 000 Namibiërs bereik en van kos voorsien, volgens ‘n verklaring wat die ambassade aan die media ná die ambassadeur se aankondiging gegee het.

In reaksie op die gebaar het president Hage Geingob die Amerikaanse ambassadeur en haar regering bedank dat hulle op die pleidooie van die Namibiese regering ag geslaan het.

Vroeër vanjaar het die Amerikaners hulp ter waarde van US$100 000 (sowat N$1,46 miljoen) in die vorm van onder meer waterverskaffing aan die Namibiese Rooikruisvereniging in die Kunenestreek verleen.

Die finansiële steun vir droogtehulp kom van die Amerikaanse President se Noodplan vir MIV/vigs-verligting (Pepfar).

Die skenking van US$7,6 miljoen vir droogtehulp is aanvullend tot Pepfar se jaarlikse skenking wat staan op US$81,4 miljoen (sowat N$1,2 miljard) vir die boekjaar wat op 1 Oktober 2019 begin. - NAMPA

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer