Amerika kom kyk watter wapens SA hom kan bied
Amerika kom kyk watter wapens SA hom kan bied

Amerika kom kyk watter wapens SA hom kan bied

Sarel van der Walt



’n Afvaardiging van die Amerikaanse departement van verdediging sal Suid-Afrika binnekort besoek om hom te vergewis van wat die Suid-Afrikaanse wapenbedryf kan bied.

Die besoek sou aanvanklik aanstaande week plaasgevind het, maar is tot later in die jaar uitgestel, sê die Suid-Afrikaanse Wapenuitvoerraad (Saamdec).

“Ons het laat gisteraand ’n boodskap ontvang dat die besoek uitgestel is, maar dit sal beslis nog plaasvind,” het ’n woordvoerder van Saamdec Dinsdagoggend gesê.

Die Amerikaners se besoek volg ná ’n ontmoeting in November verlede jaar tussen die Suid-Afrikaanse departement van verdediging en die Amerikaanse weermag.

Die webwerf defenceweb.co.za berig die Amerikaanse weermag se strydmag vir die ontwikkeling van gevegsvermoëns is op soek na onder meer langafstand-presisiemissiele, die volgende geslag gevegsvoertuigtegnologie, moderne vraghelikopters, ’n inligtingstelsel vir bevel, beheer, kommunikasie en intelligensie (C31), ’n missielverdedigingstelsel en tegnologie om die doeltreffendheid, aanvalsvermoë en veiligheid van soldate te verbeter.

Net enkele Suid-Afrikaanse maatskappye voorsien tans die Amerikaanse weermag van wapens en toerusting, sê Saamdec.

Die Amerikaanse ambassade in Pretoria wou nie kommentaar lewer nie.

Rapport het in November berig die regering wil hê die waarde van buitelandse beleggings in die wapenbedryf moet in die volgende vier jaar verdubbel tot R25 miljard.

Die regering wil voorts ’n meesterplan vir die wapenbedryf ontwikkel soortgelyk aan dié van die motorbedryf. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer