Ambunda veg weer vir IBO-titel

Boks
NAMPA
Namibië se ­voormalige wêreldkampioen van die Wêreldboksorganisasie (WBO), Paulus Ambunda, sal op 29 September teen Muhamad Ridhwan in Singapoer om die vakante superkapokgewigtitel van die Internasionale Boksorganisasie (IBO) te staan kom.

Ambunda, wat deesdae deur Imms Moses van African Connection Boxing and Fitness afgerig word, is ook 'n gewese IBO superkapokgewig titelhouer.

Moses het gister aan Nampa bevestig dat die geveg teen die Singapoerees in laasgenoemde se tuisland sal plaasvind. Besonderhede word glo later dié week bekend.

In die 37-jarige Ambunda se laaste geveg het hy Nasibu Ramadhan van Tanzanië in Desember laas jaar verslaan om die Wêreldboksraad (WBC) se internasionale silwer titel in dié gewigsklas te verower.

Uit sy 28 gevegte het Ambunda nou 26 gewen (elf uitklophoue) en twee verloor. Beide nederlae was in wêreldtitelgevegte – eers teen Tomoki Kameda in die Filippyne in 2013 en drie jaar later teen Moises Flores van Mexiko in Windhoek.

Sy 30-jarige opponent Ridhwan het sover elkeen van sy elf gevegte as beroepsbokser gewen.

Op die Singapoerees se rekord is een vorige ontmoeting met 'n Namibiër, naamlik toe hy in Oktober verlede jaar eenparig met punte gewen het om Nataneal Sebastian se onafgebroke string van nege oorwinnings te verbreek. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer