Ambunda en sy opponent belowe mekaar 'slaappilletjies'
Boks
Die bokshoop van Singapoer, Muhamad Ridhwan, het hard probeer om sielkundige punte teen sy Namibiese opponent Paulus Ambunda te wen tydens gisteroggend se nuuskonferensie in die opbou na hul wêreldtitelgeveg komende Saterdag.
Hul geveg om die vakante superkapokgewig titel van die Internasionale Boksorganisasie (IBO) word met die slagspreuk “The Roar of Singapore: The Kings of Lion City” bemark.
Kort voor die einde van die nuuskonferensie het ’n lid van Ridhwan se entourage die mikrofoon in die hande gekry en het Ambunda in Singapoer verwelkom.
Hy het toe vorentoe getree en ’n “geskenk” aan Ambunda oorhandig – ’n wit kussing met die woorde “Sweet Dreams” op geskryf, met die handtekening Team TCW onderaan, verwysend na Ridhwan se bynaam, The Chosen Wan.
Met ’n breë grynslag het Ridhwan gesê: “Ons is gasvrye mense; ons wil hom so gemaklik as moontlik maak. Ons hoop sy afrigter bring die kussing Saterdagaand saam, want ná ses rondes kan hy dit nodig kry.”
Ambunda se span het die gebaar in goeie gees aanvaar. Sy afrigter Imms Moses het geantwoord: “Die man met die kussing, ons is lief vir jou. Ons sal dit saambring vir wanneer dit in die ander krythoek nodig is.
“Die kussing is ook ’n goeie plek om die kampioengordel op neer te lê wanneer ons dit gewen het, sodat dit nie krapmerke kry wanneer ons dit na Namibië terugbring nie.”
‘HIER OM OOR TE NEEM’
Die aardigheid met die kussing was die hoogtepunt van ’n andersins heel respekvolle nuuskonferensie.
Ridhwan het uitgewys dat sy opponent Ambunda as ’n voormalige wêreldtitelhouer van die IBO en die Wêreldboksorganisasie (WBO) ’n gedugte opponent is en het bygevoeg dat hy Saterdag ’n taai geveg verwag.
Die IBO word beskou as die mees gesaghebbende beheerligaam buiten die topvier, die WBO, die Wêreldboksvereniging (WBA), die Internasionale Boksfederasie (IBF) en die Wêreldboksraad (WBC).
Titels van die IBO dra gewig – met die swaargewig Anthony Joshua een van sy huidige gordelhouers. Tevore het die lys van IBO-kampioene ook name soos Manny Pacquaio (superliggewig), Floyd Mayweather (weltergewig) en Gennady Golovkin (middelgewig) ingesluit.
Nietemin het Ridhwan bygevoeg: “Die geskiedenis wys dat voormalige kampioene plek maak vir toekomstige kampioene. Ambunda is die verlede. Ek is die toekoms. Ek is hier om oor te neem.”
Die 38-jarige Namibiër het egter daarop aangedring dat hy Saterdagaand die wenner sal wees.
“Dis net drie dae voor die geveg – dieselfde getal as die rondes waarin Ridhwan staande gaan bly.
“Ek en my span is nie hier as toeriste nie. Ons is nie hier met vakansie nie. Ek het hard geoefen hiervoor en ek is gereed.”
KAARTJIEPRYSE
Die Britse promotor Scott O’Farrell, die stigter van die promosiemaatskappy Ringstar wat “The Roar of Singapore” as hul eerste groot geleentheid organiseer, sê meer as 60 persent van die kaartjies vir Saterdag se gevegte is reeds verkoop. Hy verwag dat die hotelsaal se 3 000 sitplekke alles uitverkoop sal word.
Gewone toegang vir die gevegsaand beloop 80 of 100 Singapoerse dollars (nagenoeg N$830 en N$1 040), terwyl die beste sitplekke naaste aan die kryt jou 188 SGD (N$1 960) uit die sak sal jaag.
In die opwindende voorprogram is boksers van onder meer Rusland, Maleisië, Ghana, Thailand, Indië en Nieu-Seeland in aksie.
O’Farrell se groot hoop is egter dat sy blinkste ster Ridhwan hom in die topliga sal vestig deur sy eerste wêreldtitel te beklink.
“Dis ’n groot sprong vir Ridhwan, maar ek glo sterk dat hierdie ou die beste superkapokgewigte ter wêreld kan pak en met hulle afreken,” het die Brit gesê.
“As jy kyk na mense wat tevore IBO wêreldtitels gehou het, soos Golovkin, dan weet jy dié is ’n groot geveg.
“As ’n promotor is my wens dat beide vegters (Ridhwan en Ambunda) op hul beste sal wees, want dan gaan toeskouers iets fantasties beleef.”
Paulus Ambunda se suksesvolle loopbaan (26 oorwinnings, elf uitklophoue, twee nederlae met punte) sluit wêreldtitels in twee gewigsklasse in.
Sy jonger opponent Ridhwan het egter ’n skoon rekord van elf oorwinnings, waarvan hy agt met uitklophoue beëindig het. – straitstimes.com

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie