Ambassade verstaan nie verwarring oor toeriste
Ambassade verstaan nie verwarring oor toeriste

Ambassade verstaan nie verwarring oor toeriste

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Spaanse ambassade in Windhoek weet nie hoe die verwarring ontstaan het oor die twee toeriste wat by ’n gastehuis in Windhoek onder kwarantyn is se herkoms nie.

’n Woordvoerder van die ambassade het gister namens die ambassadeur, mnr. Javier Romena, verduidelik die ambassade het vasgestel die paartjie, wat positief vir Covid-19 getoets het, is Roemeniërs, en nie Spanjaarde nie, toe daar met hulle by die gastehuis kontak gemaak is om mediese sorg vir hulle te reël.

Hulle het via Madrid (in Spanje) en Doha (in Katar) na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gereis, maar is Roemeniërs, het die ambassade laat Saterdag in ’n verklaring gesê.

Die woordvoerder, wat gister navrae op die ambassade se noodnommer beantwoord het, sê aangesien hy in elk geval met die toeriste kontak gemaak het, het die ambassade voortgegaan om as middelman tussen die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer (CDC) en die toeriste op te tree.

“Die CDC het probeer om hierdie mense te kontak om uit te vind of hulle enigiets nodig het.”

Hy wou egter nie sê hoe ernstig hulle siek is nie.

“Hul persoonlike omstandighede is vertroulike inligting,” was sy woorde.

Die Spaanse regering het sy burgers versoek om alle nienoodsaaklike reise op te skort.

Volgens die woordvoerder van die ambassade is Spanjaarde wat tans op besoek aan Namibië is aangemoedig om so vining moontlik Spanje toe terug te keer. Diegene wat toere bespreek en besprekings gemaak het, is aangeraai om dit uit te stel.

“Ons raai hulle nie aan om dit af te stel nie.”

Dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê die ministerie volg die protokol vir die opsporing van almal wat met die paartjie in kontak was.

Die aangeduide inkubasietyd is 14 dae.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer