Amajita beu00ebindig o.20u2019s se hoop
Amajita beu00ebindig o.20u2019s se hoop

Amajita beëindig o.20’s se hoop

Tielman vanlill
Namibië se o.20-sokkerspan is onseremonieel uit die 2017 Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) se Afrika Nasiesbeker geboender toe die suidelike buurland hom Saterdag met 2-0 in ’n kwalifiserende wedstryd in die FNB-stadion in Johannesburg oorrompel het.
Die eerste botsing tussen die twee lande in Windhoek het doelloos geëindig toe die Jong Warriors ’n gulde geleentheid deur die vingers laat glip het om Amajita tuis te oorskadu.
Saterdag se telling van 2-0 is nietemin ’n kompliment vir die Namibiërs wat die telling teen hulle in toom gehou het. Suid-Afrika spog met verskeie spelers wat hul brood en botter in dié land se hoogste sokkerliga verdien.
Volgens ’n verslag deur die Namibiese Sokkervereniging het die Jong Warriors eers ná 15 minute rekenskap van hulself begin gee.
“Fagrie Lakay, aanvaller van SuperSport United, het die eerste doel in die 25ste minuut behaal nadat beslis is dat die verdediger Baloyi Tsandib die bal in die doelgebied hanteer het. Ongelukkig kon doelwagter Mirko Wolff nie die strafskop keer nie.”
In die tweede helfte het Liam Jordan (Bidvest Wits) die Suid-Afrikaners se telling laat verdubbel.
“Ons het hard probeer en van die spelers het hul bes gelewer, maar ongelukkig het almal nie ewe goed presteer nie. Dit is hartseer dat ons uitgeskakel is, maar daar is nie veel tyd om rond te sit nie, want die o.20 Cosafa-beker is later vanjaar.
“Ons het ’n klomp goeie spelers en daar sal hard gewerk moet word om hulle ten volle te ontwikkel,” het afrigter Gerald Güther gesê.
Suid-Afrika sal in die volgende ronde teen die wenner van Lesotho of Mosambiek speel vir ’n plek om in Februarie en Maart in Zambië aan die o.20 Cosafa-kampioenskap te kan deelneem.- Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer