Alvarez sleep De La Hoya hof toe
Alvarez sleep De La Hoya hof toe

Alvarez sleep De La Hoya hof toe

Boks
Andrew Poolman
Saul (Canelo) Alvarez, wat allerweë as een van die beste boksers in die wêreld beskou word, is op die oorlogspad.

Dié Mexikaan het Dinsdag ’n hofgeding teen sy promotor, Oscar de la Hoya, en DAZN, die uitsaaier met wie hy ’n kontrak het, aanhangig gemaak.

Volgens Alvarez skuld DAZN hom geld en kry De La Hoya dit nie reg om vir hom gevegte te reël nie.

“Ek is nie bang vir enige teenstander in die kryt nie en ek gaan nie dat my promotors of my uitsaaier my weens hul mislukkings uit die kryt hou nie. Ek het die hofsaak aanhangig gemaak omdat ek weer wil boks en my ondersteuners gelukkig wil hou,” het Alvarez volgens Boxing Scene gesê.

Alvarez was verlede jaar in November laas in aksie toe hy Sergey Kovalev van Rusland in die elfde ronde van hul geveg in die MGM Grand-casino in Las Vegas uitgeslaan het.

Daar was sedertdien allerlei gerugte van gevegte teen verskeie teenstanders, maar niks kon sover finaal gereël word nie.

Alvarez het al verlede jaar in Augustus begin brom omdat hy nie tevrede is oor hoe De La Hoya sy loopbaan bestuur nie.

Ander boksers, soos Ryan Garcia, het ook al oor De La Hoya gekla en gesê hy betaal hulle te min.

De La Hoya (47) het ’n tydjie gelede aangekondig dat hy self weer wil begin boks. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer