'Almal is welkom, almal kan help'

Me. Lena Palm het haar studies in Duitsland gestaak om vyf verskillende organisasies in Namibië te ondersteun en hier te studeer.
Tanja Bause
Tanja Bause - “Ek het ses maande ná ek met my studies in Duitsland begin het, in die klas gesit en gedink ek kon nou in Namibië wees en iets sinvol met my lewe doen. Nou sit ek hier in ’n klaskamer en mors my tyd. Nét daar het ek my studies gestaak en na Namibië teruggekeer,” vertel die 22-jarige me. Lena Palm.

Palm het ná skool vir ses maande maatskaplike ondersteuningswerk by ’n weeshuis in Katutura gedoen voor sy terug is Duitsland toe om met haar studies in die sosiale wetenskappe te begin.

“Ek het besef ek en my vriende en die mense om my wil verskillende dinge in die lewe hê. Wat vir hulle belangrik is, was nie meer vir my belangrik nie. Daar is ’n groot wêreld daar buite en ek wil ’n verskil maak,” verduidelik Palm.

In 2015 het sy Wadadee Cares gestig en na Namibië teruggekeer om maatskaplike werk aan die Universiteit van Namibië (Unam) te studeer. Geld wat Wadadee Cares insamel, word plaaslik aan vyf organisasies, onder meer Hope Village, bestee. Wadadee beteken “almal van ons” in Damara.

“Ons pas dit bietjie aan en vertaal dit as 'vir almal, almal is welkom, almal kan help',” het Palm gesê.

“Die Love your Neighbour-kleuterskool in Okuryangava is een van die projekte wat ons van die begin af ondersteun. Ons ondersteun hulle ook finansieel die meeste. Ons stuur Duitse vrywilligers om met die projek se kinders te speel en hulle op te voed,” het Palm gesê.

Me. Alida Swartz het dié kleuterskool in 1999 met 50 kinders begin.

“Ek en my man het op die stoep gesit toe ’n kind oor die straat voor ons huis gehardloop het om iets by die winkel te gaan koop. Die kind is voor ons oë doodgery. Ons het toe besef ons moet iets doen om die kinders van die strate af te kry. Hier was nie ’n kleuterskool in die omgewing nie en ons het begin om die kinders ’n veilige speelplek te gee waar hulle ook iets kan leer,” het Swartz gesê.

Vandag het die Love your Neighbour-kleuterskool sowat 300 kinders wat nou ook daagliks ’n warm maaltyd kry.

Palm het, met die ondersteuning van mnr. Shaun Awaseb en skenkings aan Wadadee Cares, ’n sopkombuis op die kleuterskool se perseel begin.

Die skenkings finansier ook die daaglikse maaltye.

“My man werk vir Expert, ’n elektroniese maatskappy in Duitsland, wat ook 'n tak in Suid-Afrika het. Duitsland het met Suid-Afrika gereël dat die maatskappy kombuistoerusting aan die sopkombuis skenk,” het me. Petra Bauer, Lena se ma, gesê.

“Ons ondersteun ook individue deur Wadadee Cares. Ons betaal byvoorbeeld ’n Unam-student se studies. Of ’n weeskind se uitgawes. Daar is ook twee kinders wat operasies nodig het, wat ons finansieel gaan steun,” het Bauer gesê.

Wadadee Cares maak ook bande tussen Duitsland en die kinders van die kleuterskool moontlik.

“Baie mense neem ’n kind finansieel aan. Dit beteken hulle dek die kind se mediese-, opleidings- en ander uitgawes. Ons hoop dat as die kinders dan in die toekoms wil studeer, daar ’n band tussen die ‘aanneemouers’ en die kind is en dat hul studies dan moontlik gefinansier sal word,” het Bauer gesê.

Mnr. Jan Kralitschka, wat in 2013 aan die Duitse televisiereeks The Bachelor deelgeneem het, het die opening van die sopkombuis behartig. Hy het ook gehelp om die speelparkie by die kleuterskool te bou.

“Ek het vir Petra deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet en toe sy my vertel dat die projek kinders in Namibië help, wou ek onmiddellik deel daarvan wees.

"Ek was in 2013 twee dae lank in Namibië vir die verfilming van die TV-reeks en het my hart op dié mooi land verloor,” het Kralitschka gesê.

Hy sal sy gewildheid in Duitsland gebruik om die Wadadee Cares-projek te bevorder.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer