Allister: 'Rassie minder bekwaam as ek'
Allister: 'Rassie minder bekwaam as ek'

Allister: 'Rassie minder bekwaam as ek'

Rugby
Stephen Nell - Rassie Erasmus se aanstelling as de facto-Springbok-afrigter beteken in wese dat 'n “minder bekwame kandidaat” ten koste van hom bevorder word, en dit is nie bevorderlik vir transformasie nie.

Dis van die skote wat die Bok-afrigter, Allister Coetzee, afvuur in die opspraakwekkende e-pos wat verlede week aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende komitee gestuur is.

Coetzee voer aan dat hy as “gekleurde persoon” misbruik is om die weg vir Erasmus se aanstelling as Bok-afrigter te baan.

Erasmus is in Junie verlede jaar as Saru se direkteur van rugby aangestel, maar het die pos eers einde verlede jaar amptelik opgeneem nadat hy sy verpligtinge by die Ierse klub Munster afgehandel het.

Dit maak Erasmus die oppergesag van alle nasionale spanne – 'n struktuur waarin Coetzee aan hom verslag sal doen en nie meer die laaste sê sal hê oor rugbysake nie.

Coetzee beskou dié aanstelling egter as onwettig en meen sy reg op waardigheid, gelykheid en regverdige arbeidspraktyke is daardeur aangetas.

“Dis veral so in die lig daarvan dat 'n algemene opvatting in Saru heers dat dit altyd die bedoeling was om Heyneke Meyer met Rassie te vervang, maar Saru wou enige omstredenheid oor ras vryspring,” skryf Coetzee in die brief wat in Netwerk24 se besit is.

“'n Strategie is ontwikkel om my as 'n gekleurde persoon te gebruik om die uiteindelike doelwit te verdoesel, deur my die pos as Bok-afrigter aan te bied, maar van die nodige hulpbronne te ontsê om my pligte na wens te kan uitvoer. Dit sou daartoe aanleiding gee dat ek my pos vroeg verlaat en Rassie uiteindelik aangestel word,” skryf Coetzee.

“Dié strategie druis in teen Saru se strategiese transformasieplan. Dis onsmaaklik, om die minste te sê, om my as 'n swart Suid-Afrikaner as 'n pion te gebruik op 'n manier wat net as verwerplik beskryf kan word.”

Hy voeg by dat Erasmus se aanstelling “in die algemeen” nie transformasie bevorder nie. Coetzee sê ook dis “verstommend” dat hy meegedeel word dat daar beplan word om van hom 'n “seremoniële” afrigter te maak wat moet rapporteer aan Erasmus, wat Coetzee “met respek” as “minder bekwaam” beskryf.

Coetzee se e-pos volg op 'n vergadering met Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux, op 18 Januarie in Kaapstad. Piet Heymans, van Sport Employees Unite, wat Coetzee verteenwoordig het, was ook teenwoordig.

Volgens betroubare bronne was dié vergadering daarop gemik om die weg te baan vir 'n vreedsame skikkingsooreenkoms wat Coetzee se reputasie sou beskerm.

Roux het dit glo in dié vergadering duidelik gestel dat hy nie 'n mandaat het om namens Saru te onderhandel nie.

In Coetzee se e-pos voer hy egter aan dat Roux vir hom gesê het dat Mark Alexander (Saru se president), Francois Davids (adjunkpresident) en James Stoffberg (visepresident) aan hom (Roux) 'n mandaat gegee het om hom (Coetzee) mee te deel dat Saru beplan om sy kontrak as Bok-afrigter “met onmiddellike ingang” te beëindig.

Coetzee skryf ook dat Roux se “optrede by die vergadering” sy regte minag.

Die moontlikheid bestaan dat Coetzee en Saru se paaie dié week amptelik kan skei. Rapport berig dat Coetzee tot vandag het om 'n skeidingspakket te aanvaar. Indien hy dit nie doen nie, sal sake waarskynlik in die howe uitbaklei word.

• Saru het by navraag gesê hy gaan nie kommentaar lewer oor werkgewer/werknemer-kwessies nie.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer