Allister hou beraad met afrigters

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Namibië se hoofafrigter Allister Coetzee het in oorleg met die Namibië Rugby-unie 'n paar byvoegings op sy afrigtingspan aangekondig.

Coetzee, wat in Junie vanjaar tot ná die 2023 Wêreldbeker aangestel is, het Saterdag in Windhoek sy eerste ontmoeting met afrigters van die NRU premierliga­klubs gehad voordat hy ook 'n mediakonferensie toegespreek het.

CJ van der Linde, lid van Jake White se 2007-span wat die Wêreldbeker gewen het, is Coetzee se keuse as skrumafrigter.

Van der Linde, wat as beide vaskop- en loskopstut kon skrum en in sy speeldae ook spanne soos die Cheetahs, die Leeus, Stormers en Montpellier verteenwoordig het, het in 75 toetse vir die Springbokke gespeel (2004 tot 2012). Die 41-jarige het ná sy uittrede ook saam met Coetzee by die Canon Eagles in Japan afgerig.

Die Namibië Rugby-unie (NRU) het as deel van sy nalatenskapprogram op die gebied van afrigting vir Jood Opperman, huidige nasionale o.20-afrigter, ook by die skrumafrigting betrek in samewerking met Van der Linde.

Barend Pieterse, voormalige Cheetahs-slot wat ook ná sy uittrede veral as 'n lynstaanafrigter opgang maak, is hulpafrigter vir die voorspelers, terwyl Pine Pienaar, wat sedert 2011 verskeie afrigtersposte by die Blou Bulle beklee het en ook in beheer van hul Currie­bekerspan was, voortaan na die Namibiese verdedigingstelsel sal omsien.

Uit die Namibiese geledere is Robbie Dickson, wat tussentyds as hoofafrigter waargeneem het ná Johan Diergaardt se bedanking, as tegniese ontleder aangestel. Chrysander Botha, uitgetrede Namibiese heelagter en rekordhouer vir meeste toetsdrieë, is hulpafrigter vir die agterlyn. Sergio de la Harpe bly aan as krag- en kondisioneringsafrigter; dr. Vernon Morkel is die spandokter en Irvin Newman is die spanbestuurder.

In sy vergadering met die plaaslike afrigters het Coetzee die belangrikheid beklemtoom dat fiksheid en kondisionering belangrik is om die plaaslike klubspelers en o.20-groep voor te berei om vir plekke in die nasionale span mee te ding.

Namibië beoog in die internasionale vensterperiode in November 'n toer na 'n onbekende bestemming, voordat sy deurslaggewende Wêreldbeker-uitdunwed­stryde in Julie 2022 voorlê.

Kommentaar

Republikein 2025-09-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer