Alles wat jy van wyn ­ behoort te weet (Deel 1 van 5)

Jacqueline Louw
Hierdie eerste aflewering van ’n reeks artikels oor wyn handel oor die geskiedenis van wynmakery en die wynmaakproses.
In die volgende weke sal dit opgevolg word met artikels oor variëteite, oesjare, verskillende soorte wyne, die weten­skap van wynproe en die paring van wyn en kos.

Reeds 6000 v.C.
Argeologiese bewyse dui daarop dat wyn reeds 6 000 v.C. geproduseer is in die gebiede wat vandag as Georgië en Iran bekend staan. Argeologiese op­grawings in Griekeland dui daarop dat die produksie van wyn in Europa van 4 500 v.C. dateer.
Wyn was algemeen in Ou Griekeland, Thrakië en Rome beskikbaar en het ’n belangrike rol in godsdiens gespeel. Wyn word deur die Griekse god Dionysos en die Romeinse god Bacchus verteenwoordig en dit word ook in Christelike en Joodse seremonies soos die nagmaal en “kiddush” gebruik.
Wyn is ook in die Egiptiese geskiedenis opgeteken en daar is bewyse dat wyn reeds in die eerste twee millennia in China vervaardig is. Tydens die Middeleeue het die Rooms-Katolieke Kerk die gebruik van wyn ondersteun omdat dit nodig was om die mis te kan vier. In Duitsland is die drink van bier verban – dit was as goddeloos beskou – en mense is aangemoedig om eerder wyn te drink as blyk dat hulle bekeerde Christene is.
In die Goue Era van Islam was wyn verbode, maar nadat Moslem-alchemiste baanbrekerswerk in wyndistillasie gedoen het, het dit wettig geword om wyn vir kosmetiese redes en in medisyne te gebruik. Die tiende-eeuse Persiese filosoof en wetenskaplike El-Biruni beskryf resepte waarin kruie, minerale en selfs edelgesteentes vir medisinale redes met wyn vermeng is.

Fermentasie van druiwesap
Wyn word deur die fermentasie van druiwesap (of die sap van ander vrugtesoorte) gemaak en die natuurlike chemiese balans van druiwe is sodanig dat dit kan gis sonder dat water, suiker, suur, ensieme of ander voedingstowwe bygevoeg hoef te word.
Afhangende van die soort druif, die streek waarin dit groei en die tipe wyn wat die wynmaker wil vervaardig, verskil die presiese stappe van die wynmaakproses wat tyd, tegnieke en tegnologie betref.
Tog behels die vervaardiging van wyn meestal die volgende stappe: Die oes van die druiwe; die pars daarvan; die gis van die druiwesap, die veroudering van die wyn en die verpakking daarvan.
Die plek waar wingerde geplant word, is moontlik ’n wynmaker se belangrikste besluit. Die klimaat, weer, topografie (die natuurlike en kunsmatige eienskappe van ’n omgewing) en samestelling van die grond moet ideaal vir die wingerde wees om druiwe te dra en vir die druiwe om ryp te word.

Pluk van druiwe
Die tweede belangrikste faktor in die wynmaak­proses is wanneer dit die regte tyd is om die druiwe te oes.
Dit is belangrik dat die druiwe op hul beste geoes word en faktore soos hul vlakke van suiker, hul kleur en smaak speel ’n groot rol.
Boonop moet die druiwe versigtig gepluk word sodat dit nie gekneus of vermors word nie. Soms word druiwe met die hand gepluk, andersins word dit met masjiene geoes. Sommige vervaardigers van spesialiteit­wyne glo daarin om die druiwe met die hand te oes.
Soms, veral in plekke met ’n warm klimaat, word druiwe in die nag geoes wanneer dit koeler is en die druiwe se suikervlakke meer stabiel is. Die druiwe word met hul takkies en enkele blare aan in kratte gegooi om vervoer te word. Die blare en takke word in die volgende stap ver­wyder, want as dit te lank met die korrels in aanraking bly, kan dit ’n bitter smaak gee.

Pars die druiwe
’n Masjien verwyder die stamme en blare van die druiwekorrels en pars die korrels reeds gedeeltelik.
Ná dié proses word groen druiwe anders as rooi druifsoorte hanteer. Groen druiwe word gepars en die sap word van die korrels se doppe en pitte verwyder. Rooi druiwekorrels se doppe word in die sap gelaat sodat hul kleur, tannien en geur na die sap oorgedra kan word.
Dit is die kernverskil tussen wit- en rooiwyne. Rooiwyne se kleur en tekstuur hang af van hoe lank die sap in kontak met die druiwekorrels se doppe gebly het. Was dit nie hiervoor nie, sou rooi druifsoorte ook ’n witwyn gelewer het.
Die suiwer sap van wit druiwe kom skuimerig voor en afhangende van die tipe druif wat gebruik word, sal dit suur of soet wees.

Gis
Vrugte soos appels en bessies kan ook gegis word en dan word die wyn gewoonlik na die vrug vernoem (byvoorbeeld appelwyn of vlierbessiewyn) en staan dit generies as vrugtewyn bekend.
Ander soorte, soos garswyn en ryswyn, word van stysel gemaak en proe meer soos bier of sterk drank as wyn, terwyl gemmerwyn met brandewyn versterk word. In hierdie geval verwys die woord “wyn” eerder na die hoër alkoholinhoud as na die vervaardigingsproses.
Wyn word gemaak deur geparste druiwe te laat gis. Gis omskep die suiker in druiwe in alkohol. Verskillende variëteite van druiwe en tipes gis word gebruik, afhangende van die soort wyn wat gemaak word.
Alle druifsoorte bevat reeds ’n natuurlike tipe gis, maar dié is dikwels baie onvoorspelbaar en daarom gebruik wynmakers spesifieke soorte gis. Die regte tydsduur en temperatuur is baie belangrik in die gisproses.
Vlekvrye staal of eikehoutvate word dikwels gebruik om witwyn in te gis, terwyl rooiwyne meestal in eikehoutvate gegis word. Die vat is belangrik, want dit verleen ook geur aan die wyn.
Rooi- en witwyn gis ook verskillend. In rooiwyn word koolsuurgas vrygestel wat veroorsaak dat die druifkorrels se doppe na die oppervlak styg. Wynmakers moet dit ’n paar keer per dag weer meng om seker te maak die doppe bly in kontak met die sap. Sodra die wyn die regte hoeveelheid alkohol bevat, word die doppe, gis en ander deeltjies verwyder.
Rooiwyn word dikwels verouder.

Veroudering en verpakking
Afhangende van die gewenste resultate en watter tipe wyn vervaardig word, sal die wyn vir enkele maande of ’n aantal jare verouder word.
Sommige witwyne kan ná enkele maande gebottel word, terwyl die meeste droë rooiwyne eers vir 18 tot 24 maande verouder word.
Die finale stap is om die wyn in bottels te gooi en die etikette daarop te plak.

Bronne: winefolly.com, www.basic-wine-know ledge.com, www.etym online.com en archive.archaeology.org

Kommentaar

Republikein 2026-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer