Alles wat jy ru00earig wil hu00ea, lu00ea buite jou gemaksone
Alles wat jy ru00earig wil hu00ea, lu00ea buite jou gemaksone

Alles wat jy rêrig wil hê, lê buite jou gemaksone

Andrew Poolman
Diep, baie diep binne elkeen van ons is iets groots wat ons van nature verstaan.

Op sekere oomblikke in jou lewe, dalk net voor jy aan die slaap raak, wanneer jou onderbewussyn aanskakel, verskyn ’n klein flitsliggie. ’n Gedagte, wat sê “Dis joune, as jy dit wil hê. . .”

“Ek weet nie hoe dit gebeur nie, maar dit het met my gebeur. ’n Oomblik waarin ek besluit het om my lewe te verander. . .”

Met sy silwergrys hare en voorkop vol plooie lyk Sir Anthony Hopkins soos soveel van sy onmiskenbare fliekkarakters. Die intelligente meesterbrein vanself. Seker daarom dat hy so gereeld uitgevra word oor wat hy as die dieper betekenis van die lewe beskou.

“Ek dink daar is ’n meerdere bewussyn binne ons, van wie ons soms hulp kry. Ek weet nie of ek in enige goddelikheid glo nie. . . Merkwaardige dinge het in my lewe gebeur deur te wens of te vra vir ’n bietjie hulp. Ek reken ek is agnosties, maar in die oomblik wanneer jy wonder of daar iemand is wat jou kan help, is daar iets binne ons wat reageer. Ek glo dit regtig.

“Die lewe is hard. Ons moet glo in die krag van die lewe.

“Toe ek jonk was, wou ek graag beroemd wees. Dit alles het gebeur en dit voel niks anders nie. Dit is aangenaam, maar ek neem dit nie ernstig op nie. Ek vat dit alles met ’n knippie sout.

“Doen iets nuuts. Jy kan nie in jou gemaksone bly sit nie. Dit is wat ons almal wil doen, om heeldag te sit en televisie kyk. Dis nie die moeite werd nie.

“Die lewe is so kort. Daar is soveel glorieryke tonele in die wêreld. . . en soveel gruwels ook. Ek wil dit alles sien. Dus het ek buite my gemaksone beweeg. Vir my is dit noodsaaklik; anders kan ek net so wel doodgaan.

“Ek het elke reël in die boek verbreek. Nie uit kwade bedoelings nie, maar om ’n punt aan myself te bewys, meer as aan enigiemand anders. Ek het vir myself in die spieël gesê: ééndag sal ek jou wys. En uitgegaan en iets heel nuuts gedoen. Die musiek geskryf. En ek voel asof daar geen beperkings is nie.”

By ’n vroeër geleentheid: “Met geloof kan ons berge versit. Ek het al my hele wese in sekere projekte gestort.

“Wanneer negatiewe gedagtes insluip, maak ek seker daar is positiewe geluide in my gemoed. Sê ‘ek kan’. Mediteer en visualiseer hoe ek dit regkry. Soos om my vingers te sien beweeg soos iemand wat met ’n pak kaarte kan toor.

“Geleidelik, heel verrassend, verbaas die krag van jou brein jou. Jou spiere begin reageer, soos met enigiets – of jy klavier speel, of ’n voertuig bestuur. Dit kom, deur te ontspan.

“Die lewe is ’n illusie en selde kan jy sy gesig reg lees. Min dinge maak sin en daar is geen waarborge nie. Dis alles soos ’n droom. Ons weet nie wat die werklikheid is, of wat die begrip van tyd is nie. Dis hoe aan die slaap die mensdom is. . . ons hele geskiedenis is een van sluimer, en af en toe die mat onder ons voete wat gepluk word en ons laat sê, wat?

“As daar iets is wat ek geleer het: Hou aan. Moet nooit ophou nie. Beweeg verby die vrae in jou kop, of die nee-stemme van toe jy klein was.

“Op my foon hou ek ’n foto van toe ek ’n verwarde klein seuntjie was, soos ons almal was. Dan vertel ek hom: Ons het oukei gevaar, ou seun.

“Die lewe is nie maklik nie, maar jy moet uit die bed spring en dóén dit.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer