Alle paaie lei na Outjo
Denver Kisting – Eerskomende naweek maak Outjo opnuut soos net Outjo kan – wildsfees!
Behalwe dat daar soos gebruiklik aan wildlekker spys en drank vanjaar weer géén tekort sal wees nie, beloof die fees – “die lekkerste fees in Namibië” – vermaak van ongeëwenaarde gehalte.
Vermaak uit buurland
Wat Suid-Afrikaanse kunstenaars betref, bars die spyskaart uit sy nate. Die “Rock daai lyfie”-sensasie, Nicholis Louw, gaan feesgangers Saterdagaand aan die fuif hê. Dít gaan hy regkry saam met die immergewilde DJ Ossewa en Andriette.
Oormôreaand is Appel, Liezel Pieters, Arno Jordaan en R&R Duo aan die beurt en beloof om enige vroegwinter koue in die stof te laat byt.
Plaaslike kunstenaars
Op die plaaslike front gaan die Namibiërs nie vir hul eweknieë uit die buurland terugstaan nie. Jo Nichol, André Havenga & Joggie Jansen en Just Jack gaan beide aande bobaasvermaak verskaf.
Republikein tree vanjaar as mediaborg op en help om die 15de verjaardag van hierdie fees op gepaste, swierige wyse te vier.
Familiefokus
“Die fokus is vanjaar absoluut op die familie,” sê die hooffeesorganiseerder, me. Marinette Anthonissen.
“Al ons aktiwiteite probeer ons toespits op die familie – ma, pa, ouma en boetie.”
Vrydag word daar veral vir die mans gesorg met ’n baarde-en-vellies geleentheid rondom die skaapkoptafel.
Heel skaapkoppe gaan opgedis word “en ons kombineer dit met ’n brandewynproe” sodat niemand dors ly nie, sê Anthonissen.
Is jy ’n koek? Is jy ’n tert?
Saterdagoggend kom die dames aan die beurt met die speelse tema: “Is jy ’n koek? Is jy ’n tert?”
Dít gaan die koeksisterkoningin en die melktertmamma gekroon sien.
Die grimeer- en modeghoeroe, Hannon, gaan sy kwaste inspan om die vroue ekstra spesiaal te laat voel.
In die Shoprite/Checkers-kuiertent gaan wynuitstallers kaas en wyn voorsit en vir die seekosliefhebbers sal daar sushi en oesters wees om na hartelus aan te smul.
Dit is ook waar die boereworskoning later die dag met die louere gaan wegstap.
Die kinderpretpark gaan sorg dat Boet en Sus uit hul ouers en grootouers se hare bly.
Naas die gebruiklike springkasteel gaan laerskoolkinders vanjaar ook die kans kry om kreatiewe stalletjies van hul eie te bestuur wat as ’n kompetisie aangebied sal word.
“Dit gaan lekker wees om die kinders besig te hou met hierdie kompetisie.”
Rodeo, skyfskiet en laser zone is vanjaar ook op die kaarte.
Wildveiling bly prioriteit
“Die groot rede hoekom die wildsfees bestaan, is as gevolg van die wildveiling,” sê Anthonissen. Die katalogusveiling skop na verwagting om 12:00 af.
Ouder gewoonte gaan Du Preez Wild vanjaar weer die voortou neem en die veiling behartig.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie