All Blacks val tot derde op ranglys

Rugby
Die All Blacks se skoknederlaag teen Argentinië se Poemas beteken dat die Nieu-Seelanders tot in die derde plek op die wêreldranglys gaan sak.
Die All Blacks het verlede week in die tweede plek afgeskop, agter Suid-Afrika wat steeds gemaklik in die voorste plek is ten spyte daarvan dat die Springbokke nog nie vanjaar ’n toets gespeel het nie.
Die Kiwi’s se nederlaag in Sydney en Engeland se wegholoorwinning oor Georgië beteken egter nou dat Eddie Jones se span tot in die tweede plek sal inskuif.
Vir die Nieu-Seelanders sal dit ’n bitter swaar pil wees om te sluk. Hul vertooningsrekord in toetse teen Argentinië was 29-0, voordat hulle Saterdag met 25-15 slae gekry het.
Die wêreldranglys is in 2003 ingestel met die All Blacks wat ’n rekord opgestel het wat nie sommer oortref sal word nie.
Dié span het tussen 2009 en 2019 die voorste plek op die wêreldranglys vir nie minder nie as 507 weke geniet.
Die span het verlede jaar gedurende die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan afgeskuif tot in die derde plek nadat hy in die halfeindronde teen Engeland vasgeval het.
Hy het egter dié posisie vir net ’n enkele week beklee voordat hy weer tot naasbeste opgeskuif het deur vir Wallis in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje te klop.
Die Springbokke behou die voorste plek op die wêreldranglys vandat hulle vir Engeland in die eindstryd van die Wêreldbekerfinaal met 32-12 ore aangesit het.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer