All Blacks desperaat dat Bokke bly
All Blacks desperaat dat Bokke bly

All Blacks desperaat dat Bokke bly

Rugby
Nieu-Seelandse rugby bewe in sy broek oor die vooruitsig dat Suid-Afrika hom straks in November by ’n Europese reeks met agt spanne kan aansluit, wat die weg kan baan vir ’n algehele onttrekking uit Sanzaar.
Só ’n besluit sou verreikende gevolge inhou vir die Kiwi’s op en van die veld af.
Stuff berig die Blues-duo James Parsons en Tony Lamborn, asook Bryn Hall van die Crusaders het vandeesweek op die Aotearoa Rugby Pod bespreek wat sal gebeur indien Suid-Afrika se Superrugbyspanne na Europa verkas en moontlik die deur oopmaak vir die Springbokke om ’n nuwe tuiste in ’n vergrote Sesnasies-reeks te vind.
“Dit gaan soos ’n messteek wees as daardie ouens hulle by die Pro14 in Europa aansluit,” sê Hall oor die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers.
Hy glo kragmetings tussen die Bokke en All Blacks is die kruin van toetsrugby en beskryf ’n moontlike vertrek as ’n “reuse-terugslag”.
“Hulle is ons oudste vyand en ja, ons het die Bledisloe-beker wat na aan ons hart is, maar wanneer ons teen Suid-Afrika in die Rugbykampioenskap speel, is daar om die een of ander rede nie ’n beter toets nie.
“Dit gaan ’n reuse-terugslag wees as hulle die pad vat. Dit sal ’n groot terugslag vir ons wees om spelers van daardie kaliber te verloor.”
Lamborn, wat toetsrugby vir die VSA speel, sê toetse tussen die All Blacks en Bokke definieer ’n groot deel van sy herinneringe as kind toe hy saam met sy gesin in die vroeë oggendure opgestaan het om dié wedstryde te kyk.
“Daardie vroeë oggende saam met my gesin is my herinneringe as kind. My pa wat warm sjokolade maak en ons wat daar sit en die wedstryde kyk,” sê die Nieu-Seelandse gebore flank.
“Ek sal heeltemal verpletter wees as Suid-Afrika hom onttrek.”
Sy Blues-spanmaat Parsons glo die Bokke se status ná hul Wêreldbeker-triomf verlede jaar dra by tot hul gesogtheid en dat die finansiële belonings in die Noordelike Halfrond uiters aanloklik is.
“Covid-19 het die weg gebaan vir verandering. Hulle is die wêreldkampioen, so hulle is in aanvraag,” sê Parsons.

HONDERD PERSENT
Hall glo vas dat Nieu-Seelandse rugby sonder die Bokke daaronder sal ly.
“Ons benodig hulle 100%. Indien ons hulle sou verloor, en met alle respek aan Australië, Suid-Afrika wat gereeld teen Frankryk en Engeland en Ierland en Wallis speel, dit gaan hulle almal eenvoudig verbeter.
“Wie betrek ons? So, dit is ons, die Aussies en moontlik Argentinië, Japan, dalk ’n span uit die Suidsee-Eilande. Wie weet?
“Ek dink maar net die mededingendheid, ons sal benadeel word.”
Lamborn stem saam.
“Die mededinging met die Bokke bring die beste in ons spelers na vore. Hulle vaste fasette is ongelooflik, ek dink eenvoudig nie ons kan dieselfde standaard van die Wallabies of die Poemas verwag nie.”
Parson behou egter hoop dat daar lig aan die einde van ’n tonnel sonder die Bokke is.
“Ek stem saam, ons kan nie die Springbokke verloor nie, maar ek dink steeds daar bestaan die geleentheid om iets sterk genoeg te skep om ons mededingend te hou en ook die Suidelike Halfrond in die geheel op ’n sterk voet te plaas.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer