Alkohol-droogte ontbloot die onrusbarende werklikheid
Alkohol-droogte ontbloot die onrusbarende werklikheid

Alkohol-droogte ontbloot die onrusbarende werklikheid

Adolf Kaure
Adolf Kaure – Die wêreldwye Covid-19-pandemie het my oë geopen dat soveel dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, inderdaad dié dinge is wat die meeste saakmaak.

Terselfdertyd is daar soveel ydele sake waaraan ons gewoonlik baie waarde heg, wat van verbygaande aard is.

Die belangrikste in die lewe is liefde en die mense met wie jy jou liefde die meeste deel.

Die nasionale noodtoestand en die landswye inperking het ons almal gedwing, of liewer die geleentheid gegee, om by die huis te bly as een van die maatreëls om die moontlike verspreiding van die coronavirus teen te werk.

Die tyd wat ek by die huis bestee het, het my laat besef niks kan kers vashou by gehaltetyd saam met jou huisgesin en familie nie. Ek het geleer om my vrou en twee kinders selfs meer te waardeer, terwyl ek die aktiwiteite aanskou het waarmee hulle hul besig hou terwyl ek gewoonlik by die werk is.

Dit het my onuitspreeklike vreugde verskaf en my gemoed oopgestel vir waaroor die lewe eintlik gaan – naamlik om herinneringe te skep en te koester. Dit is daardie ontasbare dinge soos liefde, vreugde en wysheid wat die lewe die moeite werd maak.

Dié tydperk het my ook gewys dat basiese behoeftes soms al is wat ons kortkom. Selfs 'n dak oor die kop, kos om te eet en klere vir die maand kan nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Tydens die inperking het my oë ook oopgegaan vir die onstabiele ingesteldheid van soveel van ons landsburgers. Op sosiale media kon 'n mens hul klaagliedere lees omdat hulle nou van hul gewoonlike aktiwiteite soos partytjies en voorhuwelikse seks weerhou word.

Wat vir my nog 'n hartseer openbaring tydens die grendeltyd was, is die betreurenswaardige werklikheid van hoe verslaaf Namibiërs aan alkohol is. Sulke desperaatheid om onwettig alkohol te koop en te verbruik (of misbruik?) wys in hoe 'n mate ons alkohol as 'n ontsnapping nodig het om nie aan die werklikheid hoef te dink nie en eerder weg te kruip as om aan kwessies en probleme aandag te gee.

Dit laat die vraag ontstaan of daar soveel mense is wat depressie beleef en potensiële alkoholverslaafdes is, wat inderdaad professionele hulp benodig.

As die antwoord ja is, is dit tyd dat ons nie langer ons oë gesluit hou nie, maar advies opsoek hoe om ons probleme te hanteer, want ek merk ook op dat selfdood toeneem, veral hier by ons aan die kus. En dis nog nie eens September nie, wanneer sulke tragedies gewoonlik landswyd 'n hoogtepunt bereik. Is dit dalk vanweë die feit dat alkohol, as 'n susmiddel teen negatiewe emosies, nou nie meer beskikbaar is nie?

My hoop is dat wanneer die inperking finaal opgehef word, ons almal se oë geopen sal wees sodat ons fokus sal verskuif na die werklik belangrike prioriteite in die lewe.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer