‘Ali sou my geklop het’ – Mike Tyson

Boks
Anthony Joshua dink Mike Tyson sou Muhammad Ali in ’n boksgeveg verniel het, maar “Iron Mike” stem nie saam nie.
Joshua, tans die swaargewigkampioen van verskeie boksbeheerliggame, het ’n tyd gelede gesê Ali sou teen Tyson gesukkel het.
“Wanneer jy kyk hoe Ali teen Joe Frazier geboks het, sien jy Frazier se styl herinner baie aan Mike Tyson s’n,” het Joshua aan JD Sports gesê.
“Tyson het Frazier se styl bestudeer. Hoe hy beweeg, sy haakhoue. Frazier het Ali platgeslaan, dit was ’n taai geveg vir Ali.”
Volgens Joshua was Tyson ’n meer afgeronde en “ontwikkelde” vegter as Frazier en sou hy Ali verrinneweer het.
Tyson het egter aan talkSport gesê hy stem nie saam nie.
“Ali was die beste. Ek sou nie teen hom gewen het nie.”
Dié uitgesproke Amerikaner het ook aan VladTV gesê hy wou Trevor Berbick destyds “doodslaan”, omdat hy Ali destyds ’n vernederende drag slae gegee het.
Ali was in 1981 oor die muur toe hy in Nassau in die Bahamas teen Berbick geboks het.
Berbick het die voormalige kampioen ’n liederlike pak slae gegee en met punte oor tien rondes gewen.
Tyson het daardie aand trane gestort toe hy op televisie na die geveg gekyk het. Ali was sy held en hy kon dit nie hanteer om te sien hoe hy verneder word nie.
“Ek wou hom (Berbick) doodslaan. Hy het Ali regtig hard geslaan. Ali het niks oorgehad nie. Hy het hom probeer vermoor. Ek het gedink: ‘O, ek kan nie wag om jou by te kom nie’,” het hy gesê.
Tyson het sy kans in 1986 gekry. Berbick was toe die Wêreldboksraad se kampioen.
Tyson het hom van die begin af in die kryt rondgeslaan en met ’n tegniese uitklophou in die tweede ronde verpletter.
Berbick is in 2006 dood ná ’n aanvaller hom verskeie keer met ’n staalpyp in ’n kerk in Norwich, Jamaika, oor die kop geslaan het.
– Netwerk24


FOTO’s
Mike Tyson en wyle Muhammad Ali deel ’n klompie jare gelede ’n oomblik by die Universiteit van Nevada. Foto Getty Images

Muhammad Ali het Mike Tyson in 2005, voor Tyson se geveg teen Kevin McBride, in die kleedkamer gaan groet. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer