Alan nie bang vir Amupanda

Covid-19 die enigste hindernis, sê vereniging

21 July 2021 | Regering
Tuyeimo Haidula op Oshakati – Die Vereniging van Plaaslike Owerhede in Namibië (Alan) sê sy verkiesingskongres, wat oorspronklik twee weke gelede sou plaasvind, is weens Covid-19 uitgestel en nie uit vrees dat dr. Job Amupanda, die burgemeester van Windhoek, as president verkies kan word nie.

Daar is sprake dat dit die plan is om Amupanda in dié topposisie te kry ná die opposisie se indrukwekkende vertoning in verlede jaar se plaaslike owerheidsverkiesings – iets waar­teen die regerende party, Swapo, glo gekant is.

Die posisie van die presidentskap het vakant geword toe me. Katrina Shimbulu se ampstermyn in Mei vanjaar tot 'n einde geloop het. Sy is verkies tydens die laaste kongres wat in 2016 op Oshakati gehou is.

Amupanda, die Affirmative Repositioning (AR) se leier, beskou glo die Alan-presidentskap as 'n manier om sy politieke ambisies voor die algemene verkiesing in 2024 te konsolideer.

Daar is egter bronne wat aanvoer dié proses word opsetlik vertraag. Dít met die hoop dat Amupanda se kans om as president oor te neem, skraler sal wees as hy nie tydens vanjaar se binneraad-midtermynverkiesings, wat gewoonlik jaarliks in November plaasvind, as burgemeester van Windhoek herkies word nie.

“Windhoek het hulle (Alan) gevra om 'n virtuele kongres te reël, maar ek dink Swapo is bang dat (Amupanda) as Alan se president benoem sal word,” het 'n ingeligte bron aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê.

Verskeie opposisie-burgemeesters het glo aangedui hulle gaan Amupanda vir die pos benoem.

Die administratiewe hoof van Alan, me. Maureen Kambala, het bevestig die kongres is uitgestel, maar het vinnig wal gegooi teen bewerings dat Swapo iets daarmee te doen het.



ONGEKWALIFISEERD

Kambala het gesê Amupanda sal in elk geval nie vir die pos kwalifiseer nie, want vir iemand om as president of adjunk benoem te word, moes hulle ten minste as raadslid van die vereniging gedien het.

“As ons nie lede gehad het wat op die raad gedien het nie, sou die benoemingsproses wyer wees, maar vir eers het ons mense wat beter gekwalifiseerd is,” het sy gesê.

Amupanda was huiwerig om kommentaar oor die kwessie te lewer, maar het wel gesê Alan het 'n “grondwetlike probleem wat reggestel moet word”.

Die kongres moes van 6 tot 8 Julie plaasvind, maar is tot verdere kennisgewing uitgestel. Volgens Kambala is dít as gevolg van die Covid-19-regulasies wat openbare byeenkomste tot tien persone beperk.

Die Namibiese Vereniging van Plaaslike Owerhede (Nalao), sowel as Alan-amptenare kies afgevaardigdes van die kongres uit die land se 57 plaaslike owerhede.

Kambala het gesê wat die statute betref, bied die kongres twee sittings aan, naamlik die openbare en die geslote sitting, wat hoofsaaklik die geouditeerde finansiële state, die begroting en die strategiese plan, en veral die verkiesing van die president en adjunkpresident goedkeur.

Die geslote sitting ondersteun ook die streekverteenwoordigers wat vir 'n ampstermyn van vyf jaar op die raad van direkteure dien.

Sy het gesê daar word duidelik bepaal dat die verkiesing van die president en adjunk per kongres moet wees, en hiervoor is 73 afgevaardigdes van plaaslike owerhede nodig.



VIRTUELE KONGRES WORD ­OORWEEG

“Weens die Covid-19-situasie en regulasies in Namibië, het Alan alle plaaslike owerhede aangesê om 'n lid met stemreg te identifiseer en aan Alan se sekretariaat voor te lê. In dié verband het ons ook die streke versoek om hul verteenwoordigers te ontmoet en te kies, insluitend die benoeming van kandidate vir president en adjunkpresident, onderhewig aan die kwalifikasiekriteria,” het Kambala verduidelik.

Sodra hulle die besonderhede van die stemgeregtigde lede, streekverteenwoordigers en benoemings van president en adjunkpresident ontvang het, sal die datum van en die manier waarop die vyfjaarlikse kongres gehou moet word, gekommunikeer word, het sy bygevoeg.

Kambala het verduidelik dat hulle 'n virtuele kongres oorweeg, maar het gesê dit sal 'n uitdaging wees aangesien sommige plaaslike owerhede tegniese probleme sal ondervind.

“Alan het die alternatiewe opsies om die kongres te hou ondersoek, waarvan die enigste lewensvatbare opsie virtueel kan wees. Ons moet egter die realiteit van plaaslike owerhede se vermoë in ag neem om tegnologieë aan te vra om effektief op sulke platforms aan te sluit.

“Alan sal – as verteenwoordiger van plaaslike owerhede – mettertyd praktiese opsies aankondig om die kongres te hou,” het sy gesê.

[email protected]

Soortgelyk

 

MTC en regering gaan saamwerk om inentings teen Covid...

1 uur gelede | Gesondheid

'n Inisiatief tussen die regering en die mobiele telekommunikasiemaatskappy MTC, “Namibia VaxUP081 Incentive", gaan inwoners vergoed wat hul eerste dosis entstof teen Covid-19 ontvang. Volgens...

Net 14,2% van bevolking ten volle ingeënt

1 uur gelede | Gesondheid

Terwyl Namibië se doelwit was om 750 000 van die land se 1,5 miljoen geoormerkte persone vir immunisering teen Donderdag in te ent, het net...

Aandklokreël opgehef

2 ure gelede | Regering

President Hage Geingob het die aandklokreël amptelik as deel van die nuwe Covid-19-regulasies opgehef. Openbare byeenkomste kan deur 200 persone bygewoon word, so ook dieselfde...

Creativity and mental health: Where do we overstep

13 ure gelede | Gesondheid

Kalistu R Mukoroli, PR and brand strategistWe tend to preach about being creative, but isn’t this contributing to mental health issues? Creative people always push...

Tourism mogul driven by passion

13 ure gelede | Toerisme

Iréne-Mari van der Walt Part-owner of Swakop Cycle Tours Paul Ndjambula says despite his business being conceptualised during his time as an intern, it took...

Kalahari se water in die gedrang

13 ure gelede | Omgewing

Frank Steffen en Brigitte Weidlich – “Dit mag eenvoudig nie gebeur nie! Maak nie saak hoe jy uitloogproses benader nie, hierdie unieke kom sal onvermydelik...

Etosha se brand geblus

13 ure gelede |

Tanja Bause – Die veldbrand wat sedert Maandag in Etosha gewoed het, is eindelik gister onder beheer gekry. Volgens die woordvoerder van die ministerie van...

Professionele jagters se bewaringswerk

13 ure gelede | Toerisme

Emmanuel Koro, Johannesburg – Ná die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie op die Namibiese jag- en fotosafari-bedryf, het jagsyfers vanjaar ietwat verbeter. Terwyl sowat 5...

Jessica Ashley stel vandag enkelsnit vry

13 ure gelede | Byvoegsels

Die jong sangeres Jessica Ashley (Strydom) van Swakopmund stel vandag haar eerste enkelsnit – wat sy self geskryf het – vry. Die lied “Only 9”...