Akwa Projects vir spesialisdienste
Akwa Projects vir spesialisdienste

Akwa Projects vir spesialisdienste

Minette Brink
Augetto Graig – Die loodgieter- en konstruksieonderneming Akwa Projects op Tsumeb is die produk van ‘n leeftyd se kennis opgedoen by sy pa, sê mnr. Pieter van Staden.

Met behoorlike navorsing, dokumentering en kwalifikasies kan ‘n mens enige werk behartig, glo hy.

Tans is 12 mense in diens wat help met spesialiswerk, soos die installering van ‘n koidam of die vernis van ‘n plaaslike lodge se slaghuisvloer, waarvoor net topgehalte ADE-produkte ingevoer van Duitsland gebruik word.

Van Staden het drie jaar gelede van Suid-Afrika na Namibië teruggekeer en die onderneming begin. In die buurland het hy as stadsbeplanner gewerk.

Binne twee jaar sedert sy onstaan het Akwa Projects ‘n 300%-toename in werksopdragte gehad. Dit nadat goed weggespring is met die wateraanlegte en installering by Henning Crushers, die stampmeule op die dorp.

Werkers word gewerf uit gegradueerdes van die Namibië Institituut vir Mynwese en Tegnologie (Nimt) wat dan by Akwa Projects se hardebaarde aansluit.

“Daar is talle nuwe produkte op die mark, maar die mense van Tsumeb is steeds vol vertroue in die ou koperpype. Dit pas ook goed in by hul argiteksplanne,” sê Van Staden.

Een van sy mikpunte in die uitbreiding van die onderneming is onder meer om grond in die noorde van die land te diens.

Voorts het hy ‘n muur by die dorp se ingang ingespan as advertensiemedium. Die kleurvolle vertoonstuk bied aanwysings na ondernemings in en om die dorp, asook instansies met belange in Tsumeb.

Kommentaar

Republikein 2025-11-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer