• Tuisblad
  • Sport
  • Akani soek troos in 2024 ná medalje-deur toe bly
Akani soek troos in 2024 nu00e1 medalje-deur toe bly
Akani soek troos in 2024 nu00e1 medalje-deur toe bly

Akani soek troos in 2024 ná medalje-deur toe bly

Olimpiese Spele
Marizanne Kok – Vyfde by die Rio-Spele. Vyfde by 2017 se Wêreldkampioenskappe. Vierde by die Wêreldbyeenkoms van 2019. En nou vierde in die Tokio-Spele.

'n Mens kan Akani Simbine vergewe daarvoor dat hy gister met 'n swaarmoedigheid in sy stem gepraat het oor nog 'n “Dag van Amper” vir hom in die 100 meter op die internasionale verhoog.

Vir vyf jaar klop Simbine al aan die medalje-deur wanneer die wêreld se heel bestes vergader – en vir vyf jaar bly dit bottoe voor hom. Geen wonder hy het gister met 'n skelwoord op sy tong oor die Tokio-eindstreep gehardloop nie. Hy weet natuurlik al goed hoe lank 'n uitslag soos daardie sy hart sal swaar maak.

Die Suid-Afrikaanse blits moes toekyk hoe die Italianer Marcell Jacobs in die baan langs hom die eerste Europese 100-wenner by 'n groot byeenkoms word sedert Linford Christie in 1992 – en 'n hele 13 honderdstes van 'n sekonde voor Simbine oor die lyn hardloop.

Jacobs het met sy 9.80 'n nuwe Europese rekord opgestel om sy neus voor dié van die Amerikaner Fred Kerley (tweede in 9.84) en Kanada se Andre de Grasse (9.89) te hou.

Vir sowel Kerley as De Grasse was dit hul vinnigste tye ooit.

Simbine het die wedloop in 9.93 sekondes voltooi. Dis amper 'n tiende van 'n sekonde stadiger as die nuwe Afrika-rekord van 9.84 wat hy verlede maand in Hongarye opgestel het en drie honderdstes van 'n sekonde stadiger as die tyd waarmee hy tot die eindronde deurgedring het.

“Die beter man het vandag gewen, en ek is regtig bly vir Jacobs dat dinge so vir hom uitgewerk het,” het Simbine ná die wedloop gesê. “In 'n eindronde het almal 'n kans, en hy het vandag met sy heel beste vorendag gekom.

“Ek is teleurgesteld in myself, maar ook tevrede dat ek darem die eindronde kon haal. Andre (De Grasse, wat brons in Rio en by die 2019-wêreldbyeenkoms gewen het), hou ongelukkig net aan om my te klop by die groot kampioenskappe, so dis sleg.

“Maar ja, dit is wat dit is.”

Simbine het in geen van sy 100-wedlope in Tokio gemaklik gelyk nie.

Simbine se Olimpiese avontuur is nog nie verby nie, met die 4x100-aflos wat van Donderdag af wag. Hy en sy mede-Pretorianers Gift Leotlela, Thando Dlodlo en Clarence Munyai het in Mei goud by die Wêreld-aflosbyeenkoms gewen om te wys wat in hulle steek, maar gister het Leotlela onmiddellik ná sy 100-halfeind sy dyspier vasgegryp.
– Netwerk24

FOTO
Marcell Jacobs van Italië het die wedloop van sy lewe gehardloop om Olimpiese goud in die 100 m te verower, terwyl Akani Simbine (regs) nie sy beste peil in Tokio kon vind nie. Foto Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer