Air Namibia ontken skorsings is vermorsing

‘Jaar van aanspreeklikheid’

30 July 2019 | Vervoer
Catherine Sasman – Die nasionale lugredery ontken gerugte van die “wilde skorsing” van eerste offisiere (FO’s) en kajuitbemanningslede.

Dié werknemers word glo dikwels vir lang tydperke weens mindere oortredings of valse klagtes huis toe gestuur.

Volgens anonieme bronne word die menslike hulpbronnebestuurbeleid en die onderneming se riglyne roekeloos gesystap deur “onbekwame” en “omkoopbare” departementshoofde.

Hulle beweer geen van die geskorstes het skorsingsbriewe ontvang of moes aan ’n dissiplinêre proses deelneem nie.

Tog ontvang die geskorstes glo hul volle vergoedingspakket vir die duur van hul skorsing.

Die bronne beweer die skorsingstydperk duur dikwels ’n jaar of langer, met sommige geskorstes wat al byna drie jaar “by die huis lê”.

“Dis ’n totale vermorsing van die onderneming se geld – ’n onderneming wat reeds sukkel om kop bo water te hou,” het ’n bron gesê.

Hulle beweer ook sekere eerste offisiere is geskors omdat hulle “onopleibaar” is.

Dit ná hulle glo nie die paal gehaal het na afloop van hul opleiding nie.

Die Namibiese Kajuitbemanningsvakbond (NCCU) is na wat verneem word tans in gesprek met Air Namibia se raad oor die skorsings.

Volgens van die bronne kan die NCCU selfs ’n massageding weens die “twyfelagtige skorsings” aanhangig maak.

NCCU-beamptes wou nie kommentaar hierop lewer nie.

Air Namibia reageer

Mnr. Paul Nakawa, Air Namibia se woordvoerder, het gesê een eerste offisier is tans geskors, maar hy kan nie die redes daarvoor bekend maak nie.

Volgens hom is ses bemanningslede tans weens “verskeie oortredings” geskors.

Nakawa sê twee van dié ses is nie op hul pos nie weens mediese ondersoeke wat sedert 17 Julie geld.

Hy sê almal wat geskors is, was onderhewig aan ’n dissiplinêre proses en dié proses sal binnekort in die geval van die eerste offisier en die drie bemanningslede afgehandel word.

Die res van die bemanningslede het skorsingsbriewe ontvang en sal aan ’n dissiplinêre proses deelneem, sê hy.

Nog ’n aantyging waarop Nakawa gereageer het, is dat “kantoorgebonde” bemanningslede glo meer vlieg as die kajuitbemanning en dat dit die redery sowat N$5 miljoen (in reis- en verblyfkostes) in die 2018-’19-boekjaar gekos het.

Bronne noem sulke vlugte “tjekvlugte” omdat sekere werknemers glo daarby baatvind.

Die redery se woordvoerder ontken dit.

“Die kantoorpersoneel is ook kajuitbemanning. Hulle mag ’n beperkte aantal kere vlieg,” sê Nakawa.

Die rede hiervoor is dat hulle een keer ’n jaar moet vlieg.

“Hulle moet vlieg om op hoogte te bly en om te verseker hul lisensies om vliegtuie te hanteer word elke drie maande hernu,” sê hy.

Hy ontken dat sogenaamde “tjekvlugte” die redery sowat N$5 miljoen kos.

“Dit is nie waar nie. Daar is drie kajuitbemanningsbestuurders wat minstens een langafstandvlug per maand onderneem,” sê Nakawa.

Volgens die bronne werk 140 kajuitbemanningslede tans by Air Namibia, waarvan baie tans net een keer ’n maand vlieg weens die redery se finansiële en tegniese verknorsing.

Nakawa sê bemanning behels 20% van die redery se totale personeel.

“Die lugvaartbedryf is hoogs gereguleerd. Ons nasionale redery het drie sterre en volg die bedryf se reëls en regulasies. Indien ons personeel wat hul aanstellingsvoorwaardes verbreek het, toelaat om nie verantwoording daarvoor te doen nie, sal Air Namibia onregeerbaar raak. Dis die jaar van aanspreeklikheid en ons moet almal rekenskap van ons dade gee.”



CATHERINE SASMAN

Pic:

Air Namibia spokesperson, Paul Nakawa. Photo Contributed

Soortgelyk

 

Geld rol vir ramp

7 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Die regering se N$8-miljardvoorskrif teen die ekonomie se Covid-koors is gister deur ekonome verwelkom, veral omdat dit amptelik as die eerste fase...

Baba jongste Covid-19-geval

7 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale...

Só werk landbou in inperkingstyd

7 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie. Voltydse boere en plaaswerkers...

NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades

7 ure gelede | Gesondheid

In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister...

Noodtoestand: ‘Niks is normaal’

7 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks...

Weer vir 2 April 2020

7 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie in die...

Pandemie slaan toerismebedryf hard

7 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Die toerismebedryf gaan heel waarskynlik die hardste deur die Covid-19-pandemie getref word. Só sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië...

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

7 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig...

Fitch gradeer SA banke verder in rommel in

7 ure gelede | Afrika

Nellie Brand-Jonker - Fitch het die vyf groot banke van Suid-Afrika naamlik Absa, FirstRand, Investec, Nedbank en Standard Bank verder in rommel afgradeer.Alle nasionale langtermyngraderings...