Air Nam nog nie vir Sochi betaal

Agt maande ná die reis sê die Nasionale Jeugraad hulle is nie verantwoordelik vir die ­rekening nie en die Swapo-jeugliga sê hulle is in staat om dit te ­hanteer.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Air Namibia het erken hulle is nog nie betaal vir die Nasionale Jeugraad (NYC) se huurvlug na Sochi, in Rusland, in Oktober verlede jaar, met sy Airbus A330 nie.

Die lugredery se woordvoerder, mnr. Paulus Nakawa, wou nie sê watter bedrag verskuldig is nie, maar het erken "geld" word geskuld.

“In 2017 het Air Namibia die jongmense onder die vaandel van die NYC na Sochi gevlieg. Dit was nie die eerste keer dat die Namibiese jeug van ons nasionale lugredery gebruik gemaak het nie. Hulle het dit al telkemale in die verlede trots en patrioties gedoen,” het Nakawa gesê.

“Die NYC is een van ons trotse en tevrede kliënte. Ons verhouding met hulle is blywend en vriendskaplik,” het hy gesê.

Wat die betaling van die vlug betref, het Nakawa gesê die lugredery kan die bedrag nie bekend maak nie, omdat dit "aan die bepalinge van die ondertekende ooreenkoms onderhewig is".

"(En) daar is niks vreemd oor die geld wat tot dusver verskuldig is nie. Ons verhouding (met NYC) is blywend en ons weet sonder twyfel dat die NYC hul rekening mettertyd sal vereffen om die diens te eerbiedig wat aan hulle gelewer is," het hy gesê.

Die Air Namibia Airbus A330 is gehuur om sowat 172 NYC-lede - hoofsaaklik lede van die Swapo-jeugliga (SPYL) - na 2017 se Wêreld- Jeug- en Studentefees in Sochi te vervoer.

Air Namibia wou in Oktober verlede jaar ook nie sê hoeveel die vlug gekos het nie en het slegs gesê dit behels 'n "vertroulike ooreenkoms".

Hulle het gesê die vlug is teen die volle bedryfskoste gehuur, wat die marge insluit.

Dié bedrag het ook die vlug van Sochi na Frankfurt in Duitsland ingesluit waarvandaan 'n geskeduleerde vlug hervat is.

'n Lid van die Namibië Kajuitbemanningsvakbond (NCCU) wat anoniem wil bly, het gesê "versteekte kostes" is ook aangegaan, aangesien die vliegtuig in Sochi met ses uur vertraag was.

Die Airbus is ook vir die terugreis van die afgevaardigdes na Namibië gehuur.

‘SPYL MOET BETAAL’

Die direkteur van die NYC, me. Calista Gowases, het gesê dit is nie die NYC se verantwoordelikheid om die rekening te vereffen nie, maar die SPYL, omdat die reis na Sochi deur die regerende party se jeugvleuel beplan was.

Sy het gesê die NYC het bloot reëlings namens die SPYL getref.

Gowases het gesê die reis is deur 'n drieledige voorbereidingskomitee gekoördineer, wat bestaan het uit die NYC, die SPYL en die ministerie van sport, jeug en nasionale diens.

Die voorsitter van die komitee is mnr. Neville Andre, 'n voormalige woordvoerder van die SPYL.

“Ons het die reis slegs gekoördineer; ons was nie die borge nie," het Gowases gesê, en bygevoeg Andre het al die operasionele kwessies gemagtig.

Andre, wat nie meer in die SPYL se leierskap dien sedert die liga se kongres verlede jaar in Augustus nie, het gesê hy moet slegs aan die betrokke instellings rekenskap gee en kan die media dus nie te woord staan nie.

SPYL se nuwe sekretaris, mnr. Ephraim Nekongo, het erken die jeugliga is vir die betaling van die vlug verantwoordelik, maar was nie bereid om enige vrae oor die kwessie te beantwoord nie.

“Die kwessie ter sprake is tussen die SPYL, NYC en Air Namibia. Ons is in staat om dit te hanteer,” het hy gesê.

Hy het gesê die SPYL sal ter gelegener tyd meer oor die kwessie sê en het bygevoeg die drie partye sal vergader om die kwessie te bespreek.

Nekongo het gesê toe die jeugliga in 2013 lede na Ecuador gestuur het, waarvoor die regering N$5,8 miljoen opgedok het, het hulle ook met Air Namibia gevlieg. Hy het gesê die lugdiens is destyds betaal en sal nou ook betaal word.

“As ons nie vir Air Namibia (vir die Ecuador-reis) betaal het nie, sou Air Namibia geweet het wat om te doen (met betrekking tot die Sochi-vlug),” het Nekongo Donderdag gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer