Agtste barokkonsert by kunskollege

Afkomstig van die Portugese barroco of oddly shaped pear is die term 'barok' sedert die negentiende eeu wyd gebruik om die tydperk in Wes-Europese kunsmusiek tussen ongeveer 1600 en 1750 te beskryf.

Barok bly een van die gewildste musiekgenres in die geskiedenis en die Kollege van die Kunste (Cota) bied vanaand en môreaand sy agtste barokkonsert aan.

Dit vind by die NG moedergemeente in Windhoek plaas. Soliste en groepe kry die geleentheid om werke uit die barok-era met ‘n barok-ensemble, naamlik die Namibiese Kamerorkes, uit te voer.

Alexander Fokkens en Fanie Dorfling sal beide as dirigente optree. Twee violiste, Eike Coetzee en Danielle Pade, studente van Jürgen Kriess, sal as soliste optree, asook sangstudente van Hermien Coetzee, naamlik Glaucio Ncaga, Lyvodia !Ouses, Marieth van Wyk, Nadine Baas en Trudy Gertze.

Die sangeres Janice van Rooy, ’n student van Gretel Coetzee, gaan ’n werk van J.S. Bach voordra. Die twee fluitsoliste is Nancy Jian en Nadia Roxin, beide studente van H.P. Drobisch.

Carissa Esslinger (op blokfluit) tree as solis op met ’n werk van Telemann, en vorm ook deel van die blokfluitkwartet met Tiana Esslinger, Nadine Baas en hul onderwyseres, Johanita de Waal, met Schickardt se konsert vir vier blokfluite.

Nog ’n item is die eerste beweging van J.S.Bach se vierde Brandenburg-konsert met Eike Coetzee (op viool), Nadia Roxin (op fluit) en H.P. Drobisch (op fluit) as soliste.

Die Namibiese Kamerorkes gaan ook G.F. Händel se Concerto Grosso op. 4 uitvoer.

Kaartjies vir die konserte kan by Hermien Vries by Cota gekoop word, asook by die deur. Die konsert begin om 19:30. Vir navrae, kontak Ebbie Becker by 081 207 7810.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer