Agtien aansoeke vir ARV-tender
Agtien aansoeke vir ARV-tender

Agtien aansoeke vir ARV-tender

Oop, internasionale tenders is vir die verskaffing van anti-retrovirale medikasie aanvaar.
Henriette Lamprecht
Die hoërhof het 'n dringende aansoek deur Medipark Pharmaceutical Whole­salers (Pty) Ltd van die hand gewys om die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) daarvan te weerhou om voort te gaan met die tenders vir die verskaffing van anti-retrovirale (ARV)-medikasie.

Die dringende hofaansoek teen die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste en die CPBN is op 14 Desember van die hand gewys.

Die aansoek is op 9 Desember ingedien as Deel A en B.

Onder Deel A het Medipark Pharmaceutical Wholesalers die hoërhof gevra vir 'n tydelike interdik teen die ministerie en die CPBN om voort te gaan met die implementering van 'n besluit vir die verskaffing en aflewering van ARV's deur 'n oop internasionale tenderproses, afhangend van die uitslag wat onder Deel B nagestreef is.

Dié internasionale proses is in lyn met afdeling 20 van die wet op openbare verkryging.

'n Oop, internasionale tenderproses word gebruik wanneer die beraamde waarde van die aankope die voorgeskrewe drumpel oorskry; waar die goedere of dienste nie onder kompeterende pryse en ander voorwaardes by meer as een verskaffer in Namibië beskikbaar is nie, of waar geen reaksie op die oop nasionale tenderproses verkry is nie en die goedere of dienste van internasionale bieërs dus verkry word.

Volgens die CPBN se spesialis gemoeid met betrekkinge tussen bemarking en rolspelers, me. Johanna Kambala, het Medipark as deel van Deel B in sy aansoek die hoërhof versoek om die besluit om die ARV's deur 'n oop internasionale tenderproses aan te koop, tersyde te stel. Dié tender het 28 September verlede jaar geopen en op 14 Desember gesluit.

Volgens Kambala was deel van Medi­park se versoek 'n interdik teen die CPBN om voort te gaan met die opening en gevolglike evaluering van die tenderdokumente soos beplan op 14 Desember.

“Medipark het ook die hoërhof gevra om die besluit deur die CBPN te hersien om die medikasie deur middel van oop internasionale tenders aan te koop,” het Kambala gesê.

Die hoërhof het egter die dringende aansoek ten gunste van die CBPN beslis en het bevind die dringendheid is “self geskep”. Ook dat Medipark genoeg tyd sedert 28 September verlede jaar gehad het om die hof te nader, maar besluit het om dit eers op 14 Desember te doen.

Volgens Kambala het die CBPN 18 tenders vir die verskaffing en aflewering van ARV-medikasie ontvang.

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer