Agt sterf in krokodil-aanvalle in een jaar

Volgens statistieke het 1 486 gevalle van mense-dier-konflik gedurende die 2020-’21-boekjaar voorgekom, terwyl 1 284 gevalle ondersoek is.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – Tien mense het gedurende die 2020-’21-boekjaar weens mens-dier-konflik gesterf, terwyl 42 beseer is.

Dít in vergelyking met die vorige jaar, toe sewe mense dood en 37 beseer is.

Statistieke wat deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme beskikbaar gestel is, dui aan dat 1 486 gevalle van mense-dier-konflik gedurende die 2020-’21-boekjaar aangemeld is, terwyl 1 284 gevalle ondersoek is.

Die streke wat die meeste gevalle aangemeld het, was Kavango-Wes (255), Kunene (223) en Kavango-Oos (221).

Die minste gevalle – nege elk – het in die Hardap- en ||Kharasstreek voorgekom.

Krokodille was verantwoordelik vir die dood van agt mense, terwyl olifante twee mense doodgemaak het.

Wat beserings betref, is 15 mense beseer; agt deur seekoeie en sewe deur luiperds.

Verder is 1 351 vee gedurende 2020-‘21 deur wilde diere doodgemaak, waarvan die meerderheid bokke (571) en beeste (481) was.

Gewasse wat altesaam oor ’n gebied van 844 hektaar strek, is deur wild beskadig, waarvan 780 hektaar deur olifante beskadig is.

VORIGE BOEKJAAR

Intussen is 1 577 gevalle van mens-dier-konflik in die 2019-’20-boekjaar aangemeld, waarvan 1 398 gevalle verder ondersoek is.

Volgens die ministerie is die meerderheid van dié gevalle in Kavango-Wes (366) aangemeld, gevolg deur Otjozondjupa (234) en Zambezi (230).

Vyf gevalle is in Hardap en drie in Khomas aangemeld.

Seekoeie was verantwoordelik vir drie sterftes, terwyl twee mense deur krokodille doodgemaak is en twee deur olifante.

Seekoeie en luiperds was verantwoordelik vir die meerderheid van die beserings met nege elk, terwyl krokodille en buffels elk vir ses gevalle verantwoordelik was.

Altesaam 1 422 vee is deur wilde diere doodgemaak, die meerderheid beeste (701) en bokke (337), terwyl 1 589 hektaar gewasse beskadig is, waarvan olifante 1 485 hektaar se skade veroorsaak het.

Ingevolge die huidige hersiene nasionale beleid oor mens-dier-konflikbestuur (HWC), maak skade wat deur wilde diere aan die infrastruktuur gerig is, nie deel uit van die HWC se selfstandigheidskema nie, aangesien hierdie insidente moeilik is om te verifieer en in sommige gevalle misbruik kan word.

“Om dié rede word die skade aan infrastruktuur nie so wyd aangeteken nie. Die ministerie ondersoek egter moontlikhede om skadevergoeding vir eiendomme, soos onder meer heinings en waterpunte te betaal.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer