Agt nuwelinge in Springbok-groep
Agt nuwelinge in Springbok-groep

Agt nuwelinge in Springbok-groep

Rugby
Daar is agt nuwelinge in die Springbok-groep, en daar is kommer oor die veteraan Duane Vermeulen se beskikbaarheid om teen die Britse en Ierse Leeus te speel.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, het Saterdagaand toegegee die enkelbesering wat Vermeulen (34) Vrydagaand opgedoen het toe hy vir die Bulle teen die Stormers gespeel het, is ’n bron van kommer.

Daar is agt nuwelinge in ’n groep van 46 spelers – Joseph Dweba, Nicolaas Janse van Rensburg, Jasper Wiese, Sanele Nohamba, Wandisile Simelane, Aphelele Fassi, Yaw Penxe en Rosko Specman.

Die grootste verrassing is die insluiting van die slot Janse van Rensburg, ’n oud-Pretorianer wat in 2016 by die Bulle vort is om sy loopbaan in Frankryk voort te sit. Hy speel vir Montpellier.

Lood de Jager en RG Snyman is in die groep ingesluit, hoewel albei beseer is en dit nog nie duidelik is of hulle teen die Leeus sal kan speel nie.

Die 36-jarige Morné Steyn is ook weer opgeroep ná sy goeie spel op losskakel vir die Bulle. Sy ervaring van 66 toetse sal goud werd wees.

Jacques Nienaber, hoofafrigter van die Springbokke, het gesê hulle moes ’n paar moeilike besluite neem.

“As jy kyk na die groep, is daar baie ervaring en ons het net drie spelers sedert die Wêreldbeker-toernooi verloor.

“So ons moes geskikte plaasvervangers vir Beast Mtawarira, Francois Louw en Schalk Brits kry.

“Daar is ook agt nuwelinge, van wie ’n hele paar goeie rugby oorsee gespeel het.”

Erasmus het gesê hy verwag dat De Jager en Snyman op hul pos sal wees wanneer die Leeus aangedurf word.

Nienaber se voorganger het gesê daar sal altyd ’n paar verskille oor spankeuses wees.

“Ons kan nie wegskram van die moeilike vrae nie.

“Marcell Coetzee was uitstekend gisteraand vir die Bulle, maar hy het nie die laaste nege tot 12 weke gespeel nie.

“Maar dit is ’n lang seisoen en Duane kan dalk beseer wees (wat Coetzee in die prentjie kan bring).

“Curwin Bosch, Cornal Hendricks en Lizo Gqoboka – daar is soveel spelers wat ongelukkig is om nie die groep te haal nie.

“Maar ons kyk nie net na die Leeus-toer nie. Daarna is dit die Rugbykampioenskap en ons het ’n jaareindtoer, so dit is ’n voorlopige groep.”

Erasmus het gesê Vermeulen sal Maandag vir ’n skandering gaan.

“Ons is baie bekommerd oor hom, maar Herschel (Jantjies) behoort reg te wees.”

Die Springbokke speel op 2 en 9 Julie twee opwarm-toetse teen Georgië. Die drie toetse teen die Leeus is op 24 en 31 Julie en 7 Augustus.

Die SA A-span sal op 14 Julie teen die besoekers speel.

Die Leeus het laas in 2009 in Suid-Afrika gespeel.

• Springbok-groep:

Agterspelers: Aphelele Fassi, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Yaw Penxe, Rosko Specman, Damian Willemse, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Jesse Kriel, Wandisile Simelane, Frans Steyn, Handré Pollard, Elton Jantjies, Morné Steyn, Faf de Klerk, Herschel Jantjies, Sanele Nohamba, Cobus Reinach.

Voorspelers: Dan du Preez, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Jasper Wiese, Jean-Luc du Preez, Rynhardt Elstadt, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Nicolaas Janse van Rensburg, Franco Mostert, Marvin Orie, RG Snyman, Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nche, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Joseph Dweba, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni.

– Netwerk24

FOTO
Jasper Wiese het uithalerspel vir Leicester Tigers gelewer. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer