Agribank: Selfvoorsiening is noodsaaklik

'n Tegniese adviseur vir lewende hawe sê die moontlike voedseltekort in baie lande is vererger deur klimaatstoestande soos droogte en uitbrekings van plae en siektes.
Yandi Du Plessis
Namibian Sun-redaksie



Hoewel sommige mense meen selfvoorsiening van voedsel en voedselsekuriteit is dieselfde, is dit twee verskillende konsepte; eersgenoemde skep 'n moontlikheid vir voedselsekuriteit.

Dít volgens mnr. Erastus Ngaruka, Agribank se tegniese adviseur vir lewende hawe, wat sê selfvoorsiening verwys na die afhanklikheid van selfproduksie om 'n persoon daaglikse voedselinname te bereik of bevredig, eerder as om voedsel elders te koop of in te voer.

“Verder is selfvoorsiening 'n nood­saaklike aspek van voedselsekuriteit en volhoubare lewensbestaan vir landsburgers. Aan die ander kant verwys voedselsekuriteit na die beskikbaarheid en toeganklikheid van voldoende, veilige en voedsame kos wat op enige plek geproduseer word.”

Weens die groeiende wêreldbevolking en gepaardgaande faktore soos politieke onrus en die Covid-19-pandemie, is daar voortdurende druk op die beskikbaarheid van voedsel.



KLIMAATSVERANDERING

Ngaruka sê die moontlike voedseltekort in baie lande is duidelik en is vererger deur klimaatstoestande soos droogte en uitbrekings van plae en siektes.

“Daarom is landbou- en ekonomiese ontwikkeling onder konstante druk. In Namibië was, en is landbou moontlik steeds die primêre sektor om die meerderheid van die bevolking in die vorm van voedsel, werksgeleenthede en inkomste te ondersteun.”

Ngaruka sê die landbouproduksie in Namibië word oorheers deur veeproduksie, veral beeste, skape en bokke. Ander opportunistiese markte sluit pluimvee, varkplase en suiwel in.

Gewasproduksie sluit mielies en manna as stapelvoedsel in, asook tuinbouproduksie soos druiwe, dadels, uie, tamaties, wortels, kool en pampoen.

Sommige hiervan word kommersieel geproduseer, terwyl ander deel is van bestaansboerdery in gemeenskaplike boerderygebiede, wat die grootste deel van die plaaslike landboubevolking huisves.

Klimaatsverandering, siektes en plae, onvoldoende kennis of vaardighede, afwesigheid van of ontoeganklike markte, gebrekkige tegnologieë, beperkte insette, onvoldoende plaasinfrastruktuur, hoër produksiekoste en teenstrydige beleidsaspekte, is volgens Ngaruka die algemene uitdagings waarmee die meeste boere in Namibië te doen kry.

“Selfvoorsiening verg 'n veelvlakkige benadering waar alle aspekte, van produksie tot verbruik, geïdentifiseer en begryp word om gepaste produksiepraktyke te ondersoek wat daarop gemik is om landbouproduksie te verhoog.”



PLAASLIKE KENNIS

Hy sê voorts pogings om plaaslike produksie te verbeter, moet gebaseer wees op gelokaliseerde navorsing en eksperimentele oefeninge oor produksiemetodes en tegnologieë om volhoubare produksie van veilige voedsel – insluitend inheemse kosse – te verseker.

“Die groter verbruik van plaaslike voedsel is die sleutel tot die stimulering van plaaslike produksie en selfvoorsiening, wat weer die afhanklikheid van voedselinvoere en gepaardgaande koste verminder. Plaaslike voedselverbruik word egter ook beïnvloed deur die prys van plaaslike kosse en verbruikers se produkvoorkeure.”

Volgens Ngaruka hou voedselpryse verband met die produksiekoste van insette, waardetoevoeging, verpakking, berging en vervoer.

Ander aspekte wat oorweeg moet word vir verhoogde voedselproduksie is toegang tot grond, finansies, produksie-insette, inligting en kapasiteitsbou.

“Die implementering van boerderypraktyke vereis kapitaalbelegging of aanvangskapitaal om hulpbronne soos grond, water, tegnologie en arbeid te bekom en bestuur.”



INVOERE

Nog 'n uitdaging vir voedselproduksie in ontwikkelende lande is die afhanklikheid van die invoer van materiale soos sade, werktuie of masjienerie.

Dit is te wyte aan die onbeskikbaarheid van materiale of 'n gebrek aan kapasiteit om dit plaaslik te vervaardig.

Volgens Ngaruka kan die ontwikkeling van plaaslike bedrywe in dié verband die afhanklikheid van invoere verminder.

Boonop sal waardetoevoeging tot plaas­like voedsel en -grondstowwe ook die invoer van verwerkte produkte verminder.

Dit sal uiteindelik die produksiekoste en voedselpryse verlaag, en op sy beurt die plaaslike voedselproduksie en -verbruik verhoog.

“Ten slotte is selfvoorsiening 'n ontwikkelingsagenda wat gekoördineerde pogings verg om ondersteuningstelsels soos beleide, instellings en beleggings te versterk en versoen om volhoubare landbou- en ekonomiese groei te verseker. Produseer wat jy kan eet en eet wat jy produseer.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer