Agri SA su00ea transformasie in landbou vorder wel
Agri SA su00ea transformasie in landbou vorder wel

Agri SA sê transformasie in landbou vorder wel

Agri SA het hom opnuut tot transformasie verbind en sê hy wil dit op die beste moontlike manier doen én groeigeleent­hede identifiseer.
Riana de Lange



As Agri SA sowat 110 000 begunstig­des in die landbousektor kon help met die R331 miljoen wat sy lede en lidorganisasies in 2016-'17 aan transformasieprojekte bestee het, beteken dit 'n inspuiting van R1 miljard vir transformasie in dié sektor sou 330 000 boere met ontwikkeling kon help.

Dít is die slotsom waartoe Agri SA kom in sy “Transformasieverslag vir 2018” wat dié week bekend gestel is.

Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkhoof, sê in 'n verklaring hierdie is die eerste gekonsolideerde verslag oor transformasie in die landbou en is daarop gemik om transformasie in die sektor te bevorder. Die organisasie het hom opnuut tot transformasie verbind en sê hy wil dit op die beste moontlike manier doen én groeigeleenthede identifiseer.

Agri SA doen die afgelope twee jaar jaarliks 'n opname in eie ­geledere om te bepaal hoeveel bestee is ter ­ondersteuning van transformasieprojekte, en hoeveel boere baat gevind het by programme deur sy lede.

Hy wil dit wat hy deur die opname wys word, met die regering en ander belangegroepe deel om pro-aktief te wees oor die uitdagings.

Een van die grootste uitdagings is 'n tekort aan ­kapitaal omdat talle ­opkomende boere nie hul eie grond besit nie en dus nie sekuriteit vir lenings kan bied nie. Daarom is dit so belangrik dat titel­aktes oorgedra word aan boere wat reeds op grond gevestig is, sê Agri SA.

Ander uitdagings is die koste van vervoer, basiese landbou-implemente, lewende hawe en veevoer. Staatslenings en -toelaes word in die meeste gevalle nie uitbetaal in ooreenstemming met produksie­siklusse nie en dié geld word dus té vroeg of té laat ontvang.

Agri SA sê wel die rege­ring se betrokkenheid by veral programme van Graan SA, Katoen SA en die Nasionale Wolkwekers­vereniging verdien erkenning.

“Kommoditeitsorganisasies het dikwels nie die finansiële vermoë om opkomende boere ten volle by te staan nie. Gegewe die sukses van boere wat in vennoot­skap met dié organisasies werk, is die versterking van hul finansies en hulpbronne deurslaggewend vir die toekomstige ontwikkeling van landbou,” lui die verslag.

Die hulp is in die vorm van finansies, opleiding en vaardigheidsontwikkeling, mentorskap, die deel van inligting en hulp om marktoegang te kry.

Agri SA sê onder die 108 307 begunstigdes van sy transformasieprojekte in 2016-'17 was meer as 55 000 nuwe boere.

Daar is baie onsekerheid oor die konsep “opkomende boer” omdat dit na 'n reeks rolspelers kan verwys, soos gemeen­skapsboere, ­kleinboere of nuwe boere in die ­algemeen.

Vir die doel van die verslag verwys dit na boere wat 'n oorskot ­produseer met ­werklike potensiaal om 'n volhoubare kommersiële ­boerdery te bedryf.

Van der Rheede sê die verslag is 'n uitstekende vertrekpunt.

“Daar is 'n groot mate van energie binne die landbousektor om transformasie te laat werk, maar ons moet seker maak die hulpbronne wat na daardie doel vloei, lei tot werklike volhoubare boerderye.”

KATOEN SA SE

SUKSESVERHAAL

Katoen SA verskaf tans opleiding en ­mentorskap aan meer as 700 katoenboere in Nkomazi in ­Mpumalanga. Die boere het hulself in 18 koöperasies georganiseer.

In die 2016-'17-boekjaar het die departement van landelike ontwikkeling en grondsake R7,7 miljoen tot die projek bygedra en Katoen SA R1,2 miljoen.

Met die hulp van Katoen SA se span was die katoenboere se gemiddelde opbrengs 724 kg per hektaar, wat 'n bruto inkomste van R16,4 miljoen beteken het. Agri SA sê in die transformasieverslag die projek kan aansienlik uitgebrei word, maar geld is nodig vir meer ­implemente, behoorlike besproeiingstelsels en verdere opleiding. Katoen SA wil ook 'n verwerkingsaanleg in die gebied bou om meer werkgeleenthede te skep.

Die SA Varkvleisprodusenteorganisasie (Savpo) se ­ontwikkelingsbydrae van R5,8 miljoen in 2016-'17 het heelwat sukses gehad in Noordwes, KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes- en Oos-Kaap, deurdat ver­skeie opkomende varkprodusente van bestaansboerdery na kommersieel suksesvolle boerderye gegroei het. In 2017 het die organisasie 22 boere onder sy vlerk geneem. Hy betaal vir gereelde besoeke deur veeartse en is ook finansieel verantwoordelik vir vier ontwikkelingsplase. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer