Agra: Groter en beter op Maltahu00f6he
Agra: Groter en beter op Maltahu00f6he

Agra: Groter en beter op Maltahöhe

Vandag word ‘n kliëntedag by die nuut opgradeerde Agra-tak op Maltahöhe se hoofstraat aangebied, wanneer dit weer sy deure vir kliënte oopmaak nadat verskeie vergrotingswerk en verbeteringe aangebring is.

Om dankie te sê vir kliënte se volgehoue ondersteuning tydens die boufase, word uitstekende afslagpryse op ‘n groot verskeidenheid produkte vanaf 19 tot 29 April aangebied, benewens Agra se gewone spesiale maandeinde-aanbiedinge.

Die tak se amptelike heropening sal eers in Meimaand plaasvind, waartydens verskeie belanghebbendes, sakelui asook politici genooi sal word om ‘n glansryke heropening by te woon.

Die "nuwe" handelstak op Maltahöhe het nou ‘n totale vloeroppervlak van 1 045 m², nadat 745m² aangrensend tot die bestaande winkelgebou uitgelê is. Dit bied voorts ‘n totale handelspasie wat meer as drie maal groter is as die 300m² van voorheen.

Die tak huisves ook nou ‘n aparte Safari Den-afdeling, waar kampeerders ‘n verskeidenheid kamptoerusting kan aankoop. Daar is ook ‘n veemedisyne-toonbank aangebring en DIY-produkte sal nou ook te koop aangebied word.

Die opgradeerde Agra-tak op Maltahöhe spog nou met méér rakke, méér beweegruimte en ‘n groter verskeidenheid produkte. Bykomende waterverkoelers en lugversorgers asook ‘n groot geplaveide buite-area dra by tot inkopie-gerief vir kliënte.

‘n Soutstoor is buite opgerig, terwyl fasiliteite vir die ontvang en hantering van Swakara-pelse ook verbeter is. Die tak verkoop steeds diesel en petrol.

Agra beoog om handelsdienste aan gemeenskappe in die suide van Namibië uit te brei. Daar sal ook bederfbare produkte vir omliggende gastehuise en lodges aangehou word. ‘n Afleweringsdiens word ook vir lodges beplan en belangstellendes kan die pers dophou vir verdere besonderhede, of die Agra-tak op Maltahöhe kontak om hul e-pos besonderhede te laat sodat Agra met hulle in verbinding kan tree.

Die verbeteringe en vergroting van die tak is genoodsaak deur ontluikende besigheidsgeleenthede asook groter behoeftes van die Suide-gemeenskap.

Dit kom enkele maande nadat Agra sy verbeterde Otavi-tak heropen het. Ander opgraderingswerk sluit in die nuwe tak wat onlangs op Karibib gebou is asook die opgraderingswerk aan die Tsumeb-tak.

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer