Agenbach en Van Wyk blinkste o.13's

Met bietjie meer as drie maande oor, het die uitsoekgroepie genoeg tyd om vir die spogtoernooi in Suid-Afrika voor te berei.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Namibië se laer­skolerugby het Vrydag sy jaarlikse Sanlam o.13-proewe met die oog op die Cravenweek by Laerskool Pionierspark se veld aangebied.

Vyf streekspanne en 'n Presidentspan het vanaf 08:40 tot net voor 16:00 hul talent uitgestal met 138 seuns wat 'n plek in die oefengroep van 52 kon oopspeel.

Die vyf streekspanne wat deelgeneem het, was Hardap en //Karas uit die suide, Khomas (waarby Omaheke ingereken is), Erongo (die kusstreek) en Noorde.

Die span van Khomas onder leiding van afrigter Ernest Groenewald van Laerskool Orban en hulpafrigter Coenraad Steyn van Windhoek Afrikaanse Privaatskool, het die Namibië Primêre Skolerugby-trofee as die beste span by die proewe opgeraap.

Die spelers uit die suide van die land het beslis nie aan die agterspeen gesuig nie. Behalwe dat die senter Alexandro van Wyk (Laerskool Danie Joubert) van die Hardap Cheetahs as die beste agterspeler bekroon is, is sewe van die span se bulletjies by die oefengroep ingesluit.

Khomas se agtsteman Ruan Agenbach (Windhoek Gimnasium) is as die beste voorspeler van die proewe uitgewys.

Khomas met sy meerderheid rugbyskole het 25 spelers opgelewer, gevolg deur Noorde met tien, Erongo agt, Hardap sewe asook een elk uit die //Karasstreek en die Presidentspan.

Die oefengroep sal deur Mauritz Thirion van Windhoek Gimnasium (hoofafrigter) en Reagan Gertze (hulpafrigter) gebrei word, waarna die finale toergroep na Suid-Afrika bekend gemaak sal word. Vanjaar se o.13 Cravenweek en die o.16 Grant Khomo-week vind van 24 tot 28 Junie in Mpumalanga plaas en word deur Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier aangebied.

Die manne sal weer op van 6 tot 9 Mei in die hoofstad vir 'n oefenkamp byeen kom en die finale toergroep na Witrivier sal op 9 Mei aangekondig word. In Junie speel die seuns 'n klompie oefenwedstryde tuis voordat hulle na Suid-Afrika vertrek.

Die o.13-oefengroep:

Stutte: Dylan Barnard, William du Toit, Henco Kotze, Zander Wyngaard (almal Khomas), Jayden Engelbrecht (//Karas), Sethinio Haoseb (Noorde), Graham Jacobs (Presidentspan).

Hakers: Samuel Venter, Marchall Klein (Erongo), Ruben Nel (Khomas), Ruan Anthonissen (Noorde).

Slotte: Shivano van Wyk, Tauna Hawukota, Hafeni Mungungu, Kaleb Kalondo (Khomas), Princely !Gaoseb, Jayhden Swartz, Wilco Wilken (Hardap), Mbitjita Mangendje (Noorde).

Losvoorspelers: ­Alejaundro Goliath, Nicolas van der Colf (Erongo), Lee Dunn (Hardap), Ruan Agenbach, Pedrie van Tonder, Roche Brand, Enzo Snyders, Zack von Wielligh, Ernst du Preez (Khomas), Ben Mostert, Ryno de Sousa (Noorde).

Skrumskakels: Clive Raines (Khomas), Daniël Oosthuizen (Noorde), Waldo Human (Erongo).

Losskakels: FJ Fourie (Noorde), Keanen Diergaardt, Waldre Kotze, Adriaan Louw (Khomas).

Senters: Lezandro Hansen, Marcus Fourie (Khomas), Marc Holloway, Tayton Saunders (Erongo), Alexandro van Wyk, Lee-Ray van Wyk (Hardap), Jano Erasmus (Noorde).

Vleuels: Boeta Narib, Kauari Matarere (Noorde), Sammy Soobramoney, Alexander Beukes (Khomas), Baron van Wyk (Erongo).

Heelagters: Juan Kühn (Khomas), Joshua Moller (Hardap), Nowick Drotzki (Presidentspan).

Name en vanne van spelers en spanne is geplaas soos deur die Namibiese Skolesportunie (NSSU) verskaf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer