Afrika-vure brand hoog in animasie op Disney-kanaal

23 June 2021 | Kuns en vermaak
Tien rolprentmakers van Zimbabwe, Uganda, Suid-Afrika, Nigerië, Kenia en Egipte se werk is gekies om as ’n spesiale vertoonvenster van Afrikatalent op die kanaal Disney+ Original uitgesaai te word.

Dit staan bekend as “Kizazi Moto: Generation Fire” en bestaan uit ’n reeks kort animasieprente van jong regisseurs wat stories vertel van die diverse kulture en geskiedenisse van Afrika. “Kizazi moto” is Swahili en beteken vuurgenerasie, terwyl “moto” ook vuur in ander Afrikatale beteken.

Fliekvlooie kan aksiebelaaide wetenskapsfiksie asook fantasieverhale verwag, waarin wêrelde met versnelde tegnologie – bevolk met vreemde wesens, geeste en monsters – geskets word.

Die Oscar-bekroonde regisseur Peter Ramsey van Spider-Man: Into the Spider-Verse-faam is die uitvoerende vervaardiger en die Kaapse animasie-ateljee Triggerfish hanteer die skakeling met ander ateljees in Afrika en internasionaal.

“Ons gaan die werk van ’n visioenêre nuwe geslag rolprentmakers van Afrika vertoon. Die prente sluit aan by die verskynsel Afrofuturisme wat begin het met Marvel se Black Panther en toon Disney se toegewydheid om met toonaangewende internasionale talent te werk om stories uit vars en outentieke invalshoeke te vertel,” het Michael Paull, president van Disney+ en ESPN+ van The Walt Disney Company, in ’n verklaring gesê.

Meer as 70 toonaangewende regisseurs en skeppers is genooi om hul idees voor te lê ná ’n navorsingstydperk, waarin insette deur bedryfslui soos onder andere die Ghanese strokiekuns-blogger Kadi Tay, die Kongolese animasiekunstenaar Sidney Kombo-Kintombo (Avengers: Endgame) en die Suid-Afrikaanse vervaardiger Bridget Pickering (Hotel Rwanda) ingewin is.

Vyftien projekte is op die kortlys geplaas en verder onder mentorskap van Ramsey, en die kreatiewe spanne van Triggerfish en Disney, ontwikkel. Die finale tien word nou voltooi om volgende jaar op Disney+ Original wêreldwyd vertoon te word.

Van die regisseurs werk in pare. Die regisseurs is: Ahmed Teilab (Egipte), Simangaliso Sibaya en Malcolm Wope (Suid-Afrika), Terence Maluleke en Isaac Mogajane (Suid-Afrika), Ng’endo Mukii (Kenia), Shofela Coker (Nigerië), Nthato Mokgata en Terence Neale (Suid-Afrika), Pious Nyenyewa en Tafadzwa Hove (Zimbabwe), Tshepo Moche (Suid-Afrika), Raymond Malinga (Uganda) en Lesego Vorster (Suid-Afrika). - Netwerk24

Soortgelyk

 

Aandklokreël opgehef

38 minute gelede | Regering

President Hage Geingob het die aandklokreël amptelik as deel van die nuwe Covid-19-regulasies opgehef. Openbare byeenkomste kan deur 200 persone bygewoon word, so ook dieselfde...

Creativity and mental health: Where do we overstep

11 ure gelede | Gesondheid

Kalistu R Mukoroli, PR and brand strategistWe tend to preach about being creative, but isn’t this contributing to mental health issues? Creative people always push...

Tourism mogul driven by passion

11 ure gelede | Toerisme

Iréne-Mari van der Walt Part-owner of Swakop Cycle Tours Paul Ndjambula says despite his business being conceptualised during his time as an intern, it took...

Kalahari se water in die gedrang

11 ure gelede | Omgewing

Frank Steffen en Brigitte Weidlich – “Dit mag eenvoudig nie gebeur nie! Maak nie saak hoe jy uitloogproses benader nie, hierdie unieke kom sal onvermydelik...

Etosha se brand geblus

11 ure gelede |

Tanja Bause – Die veldbrand wat sedert Maandag in Etosha gewoed het, is eindelik gister onder beheer gekry. Volgens die woordvoerder van die ministerie van...

Professionele jagters se bewaringswerk

11 ure gelede | Toerisme

Emmanuel Koro, Johannesburg – Ná die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie op die Namibiese jag- en fotosafari-bedryf, het jagsyfers vanjaar ietwat verbeter. Terwyl sowat 5...

Jessica Ashley stel vandag enkelsnit vry

11 ure gelede | Byvoegsels

Die jong sangeres Jessica Ashley (Strydom) van Swakopmund stel vandag haar eerste enkelsnit – wat sy self geskryf het – vry. Die lied “Only 9”...

'n Liefdesgedig aan bedreigde spesies

11 ure gelede | Byvoegsels

Yandi du Plessis Wilde Kind se vollengte studio-album Omhanda is gister op alle stromingsplatforms uitgereik.“Omhanda” is die Oshiwambo-woord vir renoster. “Renosters is spesiaal vir Namibië...

Voortrekkers ná 90 jaar nog op koers

11 ure gelede | Byvoegsels

Die Windhoek-Schlengemann-kommando van die Namibiese Voortrekkers bied vanaand, in samewerking met Netwerk Namibië en Windhoek Afrikaanse Privaatskool, 'n plaaslike vertoning van die aanlyn konsert, Hou...