Afrika-skoenlappers en -motte kwyn
Volgens navorsers kan voedselsekerheid hierdeur geraak word.
Engela Duvenage - Veranderinge in temperature en reënvalpatrone weens klimaatsverandering kan oor die volgende dekades 'n beduidende invloed op die voorkoms van motte en skoenlappers in Afrika hê.
Dít volgens 'n studie wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) se departement bewaringsekologie en entomologie in Suid-Afrika gedoen is en in die vaktydskrif Ecological Modelling verskyn het.
Daarvolgens kan die gebiede waarin sekere spesies voorkom met tot 72% krimp.
Die studie is beplan en voltooi terwyl dr. Madeleine Barton 'n postdoktorale navorser aan die US by die fakulteit agriwetenskappe was.
Sy het dit in samewerking met prof. John Terblanche en prof. Brent Sinclair voltooi.
'MIN NAVORSING'
“Bitter min navorsing is al gedoen oor die impak van klimaatsverandering op Afrika se Lepidoptera, wat skoenlappers en motte insluit. Soortgelyke inligting is wel al beskikbaar vir spesies op ander vastelande,” vertel Terblanche, wie se navorsing fokus op die impak van klimaatsverandering op die verspreiding en bevolking van landboupeste en insekte wat siektes oordra, soos tsetsevlieë.
Hy sê: “Dis belangrik om insekte te bestudeer, want die landbousektor is bekommerd oor hoe klimaatsverandering die verspreiding kan beïnvloed van peste en insekte wat gewasse bestuif. Die rimpeleffek daarvan kan voedselsekerheid beïnvloed. Talle insekspesies speel ook 'n rol in die verspreiding van siektes. Verandering in terme van die streke waar hulle voorkom, kan ook implikasies vir ons gesondheidstelsel hê.”
Barton het 'n prosesgebaseerde klimaatvoorspellingsmodel ontwikkel. Volgens Terblanche is dit die eerste klimaatmodel wat spesifiek ontwerp is om die impak van temperatuurveranderinge én reënval op die toekoms van Afrika se skoenlappers en motte te voorspel.
Soortgelyke modelle bestaan vir ander wêreldstreke, soos Europa, Noord-Amerika en Asië. Barton se model is vrylik beskikbaar en gratis om te gebruik deur ander wetenskaplikes wat data oor die fisiologie en verspreiding van Afrika-spesies beskikbaar het.
Barton se model oorweeg dus nie net moontlike toekomstige temperatuurveranderings nie, maar ook die invloed wat veranderende reënvalpatrone en droogtes op insekte kan hê. Dit is onder huidige klimaatstoestande getoets, sowel as teen die agtergrond wat teen 2050 verwag word.
Die model is getoets aan die hand van data wat beskikbaar is vir twee endemiese Afrika-spesies: 'n bekende landboupes, die Busseola fusca, wat op gewasse gevind word, en die Bicyclus anynana-skoenlapper.
AKKURATE VOORSPELLINGS
“Om meer akkurate voorspellings te kan maak, is dit beter om temperatuurveranderings sowel as die beskikbaarheid van water in jou modelle te gebruik. Dis nodig, want hierdie elemente beïnvloed die voortbestaan van spesies verskillend. Hoe klimaatsverandering die verspreiding en bevolkingsdinamika van 'n insek oor die hele vasteland heen sal beïnvloed, hang baie af van die organisme se fisiologiese vermoë om spesifieke toestande te hanteer,” sê Barton.
Die navorsers het bevind hoër temperature en veranderende reënvalpatrone kan in sommige gevalle die verspreidingsgebied van party Afrika-skoenlapper- en -motspesies met tot 72% laat krimp.
Die verspreidingsgebied van spesies soos die mieliestamboorder (Chilo partellus), wat hoër temperature nie goed verdra nie, kan met die helfte krimp. Spesies wat gevoelig is vir koeler temperature en droë toestande kan weer oor groter gebiede aanpas soos wat temperature en reënval styg. Daar word voorspel spesies in die noordelike dele van Afrika sal kuswaarts en na hoërliggende gebiede skuif om strawwe klimaatstoestande te systap. Die verspreidingsgebied van spesies in die suidelike dele van Afrika sal waarskynlik krimp.
“As mens slegs na temperatuur as maatstaf kyk, lyk dit of spesies in die trope die gevoeligste vir klimaatsverandering gaan wees. Ons modelle wys wanneer neerslagpatrone sou verander, dit ook 'n invloed op spesies in gematigde streke gaan hê,” sê Sinclair.
“Die wisselwerking tussen uiterste temperature en droogtes kan 'n groot impak op insekte in Afrika en elders hê.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie